|

AfriForum bied hulp aan Rand Water om “Dag Zero” af te weer, maar …

AfriForum het meer as ’n week gelede na Rand Water uitgereik en kundigheid, mannekrag en die samewerking van gemeenskappe oor die hele Gauteng aangebied in ’n poging om die dreigende “Dag Zero” wat oor die koppe van inwoners in dié provinsie hang, af te weer. Dié aanbod sowel as die burgerregteorganisasie se versoek om ’n plek op die Platform for a Water Secure Gauteng (PWSG) wat rolspelers in die privaat, openbare en burgerlike samelewing byeen moet bring in die pogings om watersekuriteit te verbeter, is tot dusver met stilte begroet. Die organisasie het hom intussen tot die direkteur-generaal van die Departement van Water en Sanitasie (DWS), Sean Phillips, gewend om dieselfde aanbod te maak.

Dít, terwyl die minister van Water en Sanitasie (DWS), Pemmy Majodina, gister gewaarsku het dat Gauteng se krane binnekort kan opdroog as daar nie drasties ingegryp word nie, meen AfriForum, dui daarop dat Rand Water en die Gautengse Provinsiale Regering nie ernstig is om oplossings vir dié krisis te vind nie.

AfriForum beskik oor uitgebreide ervaring in volhoubare, gemeenskapsgederewe oplossings vir dienslewering, veral ten opsigte van watersekerheid. Die organisasie se takke landwyd het al verskeie munisipaliteite bygestaan deur onder meer die identifisering en herstel van lekkasies en die herstel van waterinfrastruktuur volgens voorgeskrewe standaarde.

Die organisasie benadruk egter dat swak bestuur op munisipale vlak die groot doring in die eindverbruiker se vlees is aangesien munisipaliteite lekkasies vir selfs weke lank nie herstel nie. Die resultaat hiervan is dat vlak 1-waterbeperkings die provinsie tans in die gesig staar waar die eindverbruiker beboet word wanneer daar te veel water gebruik word, terwyl duisende liters water weens lekkasies vermors word.

In reaksie op bewerings van Rand Water, dat die huidige waterbergingsvlakke in Gauteng laag is weens uitermatige hoë onttrekkingsvlakke deur munisipaliteite, hou AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, Marais de Vaal, vol dat Rand Water die eintlike probleem miskyk.

“Benewens die feit dat Rand Water reeds voorsiening gemaak het vir bevolkingsgroei in sy projeksies, is die huidige vraag na water nie as gevolg van meer mense wat groter hoeveelhede water gebruik nie. Dit is eerder as gevolg van die groot hoeveelhede lekkasies wat vir weke en selfs maande gelos word sonder enige poging om dit te herstel,” sê De Vaal.

DWS het Gautengse munisipaliteite gister beveel om dringend aandag te skenk aan onder meer lekkasies en onwettige verbindings.

De Vaal benadruk dat hoewel die implementering van hierdie aanbevelings die ideaal is, talle kenners, insluitend AfriForum self, ook reeds dié aanbevelings gemaak het, maar dat swak munisipale bestuur voortbou op hul mislukte strategie en dus nie daarin kan slaag om die waterprobleme op munisipale vlak die hoof te bied nie. “Daadwerklike ingryping en toegang aan burgerlike organisasies om tot die oplossing by te dra, is nou noodsaaklik. Die uurglas loop leeg en die voortgesette weiering om die burgerlike samelewing se aanbod om hulp, om skynbaar politieke redes, te aanvaar, sal vir niemand in Gauteng iets in die sak bring nie,” meen De Vaal.   

AfriForum is intussen besig om sy jaarlikse Blou-en-groendruppel-verslag te finaliseer vir publikasie voor die einde van die jaar. Vanjaar se verslag sal onder meer verdere lig werp op die omvang van die krisis ten opsigte van die lewering van veilige drinkwater in Suid-Afrika.  

Soortgelyke plasings