AfriForum bied gespesialiseerde veiligheidsopleiding aan plaaslike buurtwaglede
Sestien protospanlede van AfriForum se Matzikama-buurtwag het Saterdag op Vredendal gespesialiseerde veiligheidsopleiding onder leiding van AfriForum Gemeenskapsveiligheid ondergaan.
Spanlede het onder meer opleiding in bloedingbeheer, regsaspekte vir patrolleerders en misdaad-, en ongelukstoneelhantering ontvang. Protospanne is die sogenaamde spiespunt van AfriForum-buurtwagte se reaksiespanne en opleiding van dié aard rus lede toe met uitsonderlike vaardighede wat van kritieke belang in die optimale funksionering van buurtwagte is.
“Die opleidingsmodules is spesifiek ontwikkel om AfriForum-buurtwaglede van die nodige inligting en kennis te voorsien om hul verantwoordelikhede as siviele patrolleerders doeltreffend, doelgerig, veilig en binne die raamwerk van die wet uit te voer. Ons sien eerstehands watter verskil ’n goed opgeleide en georganiseerde gemeenskap in die stryd teen misdaad maak,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, beskik die burgerregteorganisasie tans reeds oor 168 buurt- en plaaswagte landwyd. Sowat 11 000 opgeleide vrywilligers is deel van hierdie veiligheidstrukture. “AfriForum beskou die veiligheid van gemeenskappe as ’n prioriteit en is toegespits daarop om hierdie veiligheidstrukture verder uit te brei en voortdurend topgehalte opleiding aan sy lede te bied,” sê Broodryk.
“AfriForum se buurtwagte het die afgelope tyd goeie groei getoon in die Wes-Kaap en ons is dankbaar dat meer gemeenskapslede betrokke raak by die beveiliging van hul buurte en streke. Ons bevind onsself ongelukkig in ’n situasie waar die polisie nie sy mandaat kan vervul nie en daarom is dit noodsaaklik vir gemeenskappe om self betrokke te raak by veiligheidsaksies en daarvoor is opleiding van kardinale belang,” sê Broodryk.
Raak betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.