|

AfriForum bied bejaardes beskerming teen snerpende koue

Die AfriForum-tak in Knysna het verlede week (6 Augustus) 40 komberse, 40 musse en 40 pare warm kouse aan die Protea Dienssentrum vir bejaardes in Plettenbergbaai oorhandig nadat die Wes-Kaapse regering AfriForum se rampbestuurafdeling genader het om te help dié bejaardes teen die ysige temperature beskerm.

Die 40 inwoners van die tehuis het nie genoeg warm klere en komberse gehad om hulle deur die yskoue winter te kry nie. Die provinsiale regering wou egter dié tekort so gou moontlik pak en AfriForum genader om hiermee te help. AfriForum het dadelik op die noodroep gereageer en die warmgoed aan die tehuis geskenk, asook brood, eiers, aartappels en ander basiese benodighede. Die burgerregteorganisasie het sowat R20 000 uit sy nasionale noodfonds geput om hierdie broodnodige items aan die tehuis te skenk.

“AfriForum gryp enige geleentheid aan om die gemeenskap, en veral kwesbare individue wat in nood verkeer, te help,” sê Tarien Cooks, rambestuurspesialis vir AfriForum. “Dit is ook bemoedigend om te sien dat verskillende regeringsfere bereid is om saam te werk om ’n vry, veilige en voorspoedige gemeenskap te verseker.”

AfriForum se Knysna-tak is in 2022 op die been gebring en het sedertdien verskeie suksesvolle gemeenskapsprojekte afgehandel. “Hierdie soort projekte is egter onmoontlik sonder die ondersteuning van die gemeenskap, daarom nooi ons graag mense uit om deel te word van AfriForum en om sy nasionale noodfonds te ondersteun. Hierdeur kan ons voortgaan om ’n wesenlike verskil te maak tydens noodgevalle en ernstige rampe,” sê Cooks.

Sluit by AfriForum se Knysna-tak aan deur ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za te stuur of Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, by 081 216 9602 te skakel.

Soortgelyke plasings