| |

AfriForum beteken hofstukke teen Ngwathe-munisipaliteit oor besoedelde drinkwater

AfriForum het gister hofstukke beteken teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor die haglike toestand van die drinkwater in Parys wat voortduur. ’n Reeks van drie afsonderlike laboratoriumtoetse waarvan die eerste deur die drukgroep, Save Ngwathe, gedoen is en twee opvolgtoetse deur AfriForum, toon baie duidelik dat die drinkwater besmet is met E.Coli en dus rou riool bevat en nie geskik is vir menslike gebruik nie.

Die toetse is verteenwoordigend geneem in Tumahole en in die middedorp. Dit is kommerwekkend dat daar ook baie mense in Parys aan maagongesteldheid ly. AfriForum het ná die eerste toetse die munisipaliteit 24 uur gegee om in te gryp in die toestand van die drinkwater, wat nie gebeur het nie. Die uitslag van die toetse is deur die munisipaliteit ontken. AfriForum het die uitslag van hul toetse gevra voor die einde van die dag op 12 September. Geen uitslag is tot op hede ontvang nie en die water is ná die derde toets op 19 September steeds ongeskik vir menslike gebruik bevind.

Hierdie toedrag van sake het AfriForum genoop om hom na die hof te wend en te vra dat die hof verklaar dat die water wat tans deur die munisipaliteit voorsien word, nie aan die standaarde vir drinkbare water voldoen nie. AfriForum vra dat die munisipaliteit onmiddellik drinkbare water voorsien wat voldoen aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (Nr. 241:2015). Hulle moet ook 15 dae vanaf die hofbevel die aanbevelings van dr. Marlene van der Merwe-Botha, ’n waterspesialis, se verslag implementeer. Hulle moet dan ook terugvoer aan die hof gee oor die stappe wat hulle geneem het om wel aan die standaard te voldoen. Die aangeleentheid word op 30 September in die Hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor.

“Hierdie haglike omstandighede in Parys onderstreep die onbevoegdheid van die munisipaliteit om basiese dienste aan getroue belastingbetalers te lewer. Dis werklik hartseer dat ’n munisipaliteit wat nie in staat is om skoon water aan die gemeenskap te verskaf nie steeds alle hulp van die hand wys. Om skoon drinkwater te hê is ’n basiese grondwetlike reg en iets wat ’n munisipaliteit se verantwoordelikheid is om aan die gemeenskap te bied. Dit wys absoluut dat die Ngwathe-munisipaliteit se prioriteite nie agter mekaar is nie. Daarbenewens het die toestand van die drinkwater ernstige gesondheidsgevolge vir die gemeenskap,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“AfriForum sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas en alles in ons mag doen om toe te sien dat Parys weer skoon drinkwater sal hê. Intussen doen ons ’n beroep op die gemeenskap om die water te kook voordat dit gedrink word,” sluit Pretorius af.