AfriForum bestee vanjaar al bykans R1,5 miljoen aan slaggate
Elke jaar in Julie neem AfriForum se takke oor die hele land heen deel aan die organisasie se slaggatmaandprojek. Tydens hierdie maand probeer elke tak om soveel as moontlik slaggate te herstel.
“Alhoewel takke in elk geval die hele jaar lank slaggate herstel, word daar spesifiek in Julie daarop gefokus om selfs meer te doen om paaie op te knap en veiliger te maak. Ons daag ons takke uit om elke jaar meer slaggate te herstel of meer teer aan te wend om dit te doen. Die verval van munisipaliteite het oor die afgelope paar jaar versnel en as ons nie self moue oprol om ’n verskil te maak nie, gaan die probleme net menigvuldig,” sê Corné Cronjé, bestuurder van Gemeenskapstrukture by AfriForum.
Vanjaar was die burgerregteorganisasie se takke se doelwit om meer as R1 miljoen vir die herstel van slaggate aan te wend. Hierdie doelwit is reeds in Julie vêr oorskry en bykans R1,5 miljoen is al bestee om slaggate te vul.
Streeksgewys het die takke in die sentraalstreek, wat die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal insluit, die meeste sakkies teer aangewend om slaggate te herstel. Hulle het teen einde Julie al ’n allemintige 13 200 sakkies teer gebruik. Anders gestel is bykans R1,2 miljoen in hierdie streek gebruik om slaggate te herstel.
“Die belangrike ding is dat slaggatprojekte, soos enige ander projekte, volhoubaar aangepak moet word. AfriForum se takke is ook by verskeie ander volhoubare projekte betrokke wat volgens elke tak of dorp se behoeftes aangepas word. Samewerking met ander organisasies en rolspelers is ook belangrik,” sê Cronjé.
AfriForum het vroeër vanjaar ’n samewerkingsooreenkoms met die Tshwane-metro aangegaan, maar daar is ook in verskeie ander dorpe reeds memorandums van verstandhouding met ander munisipaliteite onderteken. Daarbenewens het AfriForum in Pretoria reeds vyf buurt- en aksiespanne wat daagliks onder meer gras sny, skoonmaak en vullis optel. AfriForum se Centurion-tak het ook ’n herwinningsprojek en in Bloemfontein het die AfriForum-takke ’n vullisverwyderingsdiens vir inwoners wat nie meer só ’n diens van die Mangaung-metro ontvang nie. AfriForum beplan om binnekort buurtspanne in ander Ankergemeenskappe op die been te bring om sodoende AfriForum se vermoëns verder uit te brei.
“Ons wil nog baie slaggate herstel en enige hulp vanuit die gemeenskap word opreg waardeer. Ons moedig ook die publiek aan om by hul plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak. Donasies is meer as welkom, maar so ook iemand wat vir ’n uur of twee wil handjie bysit by een van ons projekte,” sluit Cronjé af.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.