|

AfriForum bereik meer as 1 400 Wes-Kaapse skoliere met teenboelieveldtog

AfriForum se teenboelieveldtogspan het meer as 1 400 leerders in die Wes-Kaap toegespreek tydens ’n besoek aan verskeie skole in dié provinsie. Skole wat besoek is, sluit in Carl Schreve Morawies Primêre Skool, Groenvlei Primêre Skool, hoërskool en laerskool Aurora, Laerskool Dirkie Uys en Kalksteenfontein Primêre Skool.

AfriForum bemagtig skole landwyd reeds vir sewe jaar met die teenboelieveldtog, wat as bewusmaking van boeliegedrag in skole dien. “Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe,” sê Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum.

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van “die volle wapenrusting van God”, het diep by die leerders inslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te hanteer,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

“Dit het onder my aandag gekom dat ons gemeenskappe, veral ouers, nie genoeg ingelig is oor boeliegedrag en die negatiewe gevolge daarvan nie. In sommige gevalle is die volwassenes in die huishouding die boelies. Die skole is dan die veilige hawe en ’n beter plek vir die kind om te leer wat om te doen as hy geboelie word. Die kinders word verseker dat hulle hul klasonderwyser kan vertrou, indien hulle geboelie word,” meen Ash-lynn Jonathan, maatskaplike werker van die Afrikaanse Christelike Vroue-Vereeniging in Piketberg.

Volgens Nadia Swanepoel, ’n graad 1-opvoeder van Laerskool Aurora, is boeliebewusmaking belangrik omdat dit ’n daaglikse verskynsel is. Leerders besef nie dat boeliegedrag ook verbaal kan wees nie en dat dit ook op sosiale media kan plaasvind nie.

“Kinders word moontlik deur ouers geboelie en die voorbeeld wat tuis gestel word, spoel oor na skole toe. Hoe meer ons oor boeliery praat, word die kind meer bewus van sy eie optrede teenoor ander. Deur herhaling van ’n tema help dit ’n leerder om sy kennis oor boeliegedrag en die gevare daarvan te verbreed,” sê Swanepoel.

Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) het in 2020 berig dat ongeveer een uit elke vyf tieners in die land slagoffers van kuberboelie is, wat hul geestelike gesondheid ernstig kan beïnvloed. Ouers kan kuberboelie bekamp deur hul kinders op te voed en in te lig oor wat kuberboeliery is en waarom dit skadelik is, terwyl hulle oop kommunikasie handhaaf sodat kinders vry voel om enige vorm van boeliegedrag te rapporteer. Deur sagte toesig oor sosialemediagebruik te hou en gepaste privaatheidstellings in plek te stel, kan ouers verseker dat hul kinders veiliger aanlyn verkeer. Daarbenewens kan ouers skermtyd beperk en gesonde aktiwiteite aanmoedig om kinders weg te hou van moontlike boeliery. Ouers moet kinders ook aanmoedig om kuberboeliery te rapporteer en die betrokke boelies te blokkeer, terwyl hulle emosionele ondersteuning bied. Indien nodig, moet professionele hulp gesoek word om die impak van boeliegedrag te verwerk. Hierdie stappe help om ’n veilige en ondersteunende aanlyn-omgewing vir kinders te skep.

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings