|

AfriForum berei regstappe voor sou die ANC Onteieningswetsontwerp bekragtig

Die burgerregteorganisasie AfriForum het dit aan die ANC duidelik gemaak dat die organisasie beduidende regstappe sal doen om private eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm, ingeval president Cyril Ramaphosa die Onteieningswetsontwerp onderteken of die ANC probeer om die Grondwet te wysig. Dit kom nadat die ANC vandeesweek aangedui het dat die party voorgestelde wysigings aan die Grondwet ter tafel sal lê om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, ondanks hul deelname aan die Regering van Nasionale Eenheid.

Net soos die Bela-wetsontwerp, beskou AfriForum pogings om private eiendomsreg af te breek en onteiening sonder vergoeding moontlik te maak as ’n duidelike rooi lyn, weens die ekonomiese vernietiging en skendings van grondwetlike regte wat daaruit sou voortspruit.

Die ministerie van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het onlangs bevestig dat uit die totaal van 64 354 grondeise wat sedert 1998 afgehandel is, slegs 8 314 (12,9%) van die suksesvolle eisers die grond wat hulle gesoek het in besit geneem het, terwyl 56 040 (87,1%) eerder finansiële vergoeding gekies het.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, moet enige voorgestelde wysigings aan die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding en dus die vernietiging van private eiendomsreg moontlik maak, met hand en tand en kompromisloos teengestaan word.

“As die president die Onteieningswetsontwerp onderteken, sal AfriForum sy volgende stappe aankondig om private eiendom te beskerm. AfriForum sal ook die eerste organisasie wees wat die regering hof toe vat as hy private eiendom vir onteiening sonder vergoeding begin teiken,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings