AfriForum Benoni bring weer Kersfeesvreugde aan kinders, bejaardes én vierpotige vriende
AfriForum se Benoni-tak het die afgelope naweek sy jaarlikse Kersfeesuitreik aangebied. Daar is hierdie jaar weer by verskeie kinderhuise, tuistes vir bejaardes en selfs ’n diereskuiling in dié gemeenskap aangedoen om die vreugde van Kersfees vir mens én dier te bring.
“Ons het in 2020 die eerste Kersfeesuitreik aangepak ná daar verskeie versoeke om hulp uit die gemeenskap ontvang is. Ons het as tak besluit om saam met ander rolspelers te kyk hoe ons kan help om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” vertel Archie Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.
AfriForum sowel as 16 ander groepe en organisasie het vanjaar kragte saamgesnoer om die dag moontlik te maak. Almal het op hul eie manier ’n bydrae gelewer om te verseker dat elke kind of bejaarde van die onderskeie plekke wat besoek is, ’n geskenkie ontvang het en lekker kon eet.
“In aanloop tot AfriForum se besoek het elke plek wat besoek is ’n wenslys vir geskenke opgestel wat ons dan deur middel van skenkings ingesamel het. Die geskenke is vir die betrokke individue toegedraai en met die hulp van Kersvader uitgedeel. Dit is so verblydend om glimlagte op gesigte te sien wanneer die geskenke ontvang word,” sê Mouyis.
Behalwe vir die geskenke wat uitgedeel is, het AfriForum-taklede en die ander rolspelers ook gehalte tyd saam met die inwoners en personeel van die onderskeie tehuise, kinderhuise en die diereskuiling deurgebring. Getrou aan dié feestelike tyd van die jaar was daar meer as genoeg soetgoed vir die jongklomp en almal is met pizza bederf.
Alhoewel hierdie aksie die Benoni-tak se laaste groot projek vir 2024 is, sal die tak gedurende die vakansietyd steeds ’n groot rol speel om veiligheid in die omgewing te verskerp. AfriForum-Benoni se buurtwag is juis vanjaar by dié burgerregtewaghond se driejaarlikse nasionale kongres as buurtwag van die jaar vir die noordstreek aangewys. Dié tak is boonop by dieselfde geleentheid as AfriForum se tak van die jaar aangewys.
“Ons lede wat tydens die vakansie tuisbly, sal daarop fokus om misdaad te bekamp en ons dorp veilig te hou. AfriForum Benoni dien die gemeenskap en dit is juis hoekom die Kersfeesuitreik elke jaar aangepak word. Dit is goed vir die siel om iets goeds vir iemand anders te doen, veral waar die nood groot is. Dit was ’n uitdagende jaar, maar ek wens God se seën vir almal toe en hoop ons sal volgende jaar met ons goeie werk kan voortgaan,” sê Mouyis.
* ER24, Life 1, ADT, Securefire, PRS, NOJACK, Supercops, Black Hawk, Fire Rescue N8, LGEP, Graphite, Benoekie, Romans Pizza, DOT Towing, AfriForum (hoofkantoor), Toy Run en TSSA Chaplains het die dag moontlik gemaak.