AfriForum aan Rand Water: Moenie Heilbron-inwoners straf vir Ngwathe se ‘wandade’
AfriForum doen ’n beroep op Rand Water – die grootste waterverskaffer in Afrika – om nie die watertoevoer na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, wat water aan onder meer Heilbron voorsien, te verminder nie. Die Heilbron-gemeenskap staar al vir etlike maande watertekorte in die gesig en Rand Water se voorneme om waterbesnoeiings toe te pas sal die krane waarskynlik heeltemal laat opdroog.
In AfriForum se kommentaar, wat op 21 Junie by Rand Water ingedien het, wys dié organisasie daarop dat water ’n fundamentele grondwetlike reg is vir ’n mens se lewensbestaan, sanitasie en gesondheid. AfriForum voer verder aan dat ’n vermindering in watervoorsiening nie net die gemeenskap in die algemeen negatief sal raak nie, maar ook die mees kwesbare lede van die gemeenskap. Die vermindering van water sal ook ’n groot sosio-ekonomiese impak op inwoners hê en veral skole sal daaronder ly.
Hierdie kommentaar volg nadat Rand Water kennisgewings uitgereik het met die voorneme om verskeie munisipaliteite, waaronder die Ngwathe-munisipaliteit, se watervoorsiening met 20% te verminder weens die munisipaliteite se uitstaande skuld en onvermoë om vir waterdienste te betaal.
AfriForum versoek dat die provinsiale of nasionale regeringsowerhede ingryp om ’n wedersydse voordelige oplossing te vind wat deurlopende toegang tot water vir alle inwoners verseker, terwyl die kwessie van uitstaande skuld opgelos word.
“Ek hoop werklik dat Rand Water hierop sal ag slaan, want soos dit reeds gesteld is, is Heilbron se inwoners al moedeloos met die gebrek aan water en ly nie net individue nie, maar talle ondernemings daaronder. Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit doen nie hulle werk nie en sal tot verantwoording geroep moet word. Rand Water moet ophou om die inwoners te straf vir die wandade van die munisipaliteit,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Raak by Heilbron se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak Paul Bergh by 081 354 3073.