|

AFKNOUERY ONDER KINDERS IN SENTRUMS VIR VROEË KINDERONTWIKKELING

Deur Leandie Bräsler

Dan Olweus, ’n voorstander in die voorkoming van afknouery, sê dit is beter om vroeër eerder as later in te gryp wanneer dit kom by afknouery, veral onder jong kinders. Wanneer kleuterskoolonderwysers vroegtydig ingryp deur skadelike afknouery te identifiseer en ’n stokkie daarvoor steek, kan dit verhoed dat afknouery eskaleer en ’n probleem in die toekoms word.

Jare se navorsing is al gedoen en verskeie programme is aangebied oor hoe afknouery beveg kan word, maar min van hierdie programme is egter doeltreffend. Een van die grootste probleme is dat die voorkoming van afknouery baie keer die verkeerde benaming het, met ander woorde in plaas daarvan om die tipe gedrag te verhoed en dit stop te sit nog voordat dit in werklike afknouery ontaard, fokus baie programme eerder op die afname van afknouery wat reeds hoog is. Dit is dus belangrik om proaktief op te tree.

Ten einde afknouery te voorkom is dit belangrik om ons fokus te verskuif na hoe afknouery ontwikkel. Dit sluit sowel die kinders wat by afknouery betrokke raak as dié wat geteiken word in. Dit is dan juis belangrik om by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling soos byvoorbeeld dagsorgsentrums of kleuterskole te begin.

Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller. Die Noorse navorser Olweus identifiseer die volgende drie kenmerke van afknouery:

  • Aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak;
  • ’n Herhaling van hierdie aksies oor ’n tydperk; en
  • ’n Wanbalans van mag wat die slagoffer hulpeloos laat sodat hy homself nie doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.

Afknouery kan ook verskeie vorme aanneem:

  • Fisies (soos skop, slaan en boks);
  • Verbaal (maak dreigemente, noem kinders name of dryf die spot met hulle); en
  • Sosiaal (soos die uitsluiting van ander).

Kuberafknouery is nóg ’n vorm van afknouery en behels onder meer die gebruik van die internet, selfone en sosiale media. Kuberafknouery is wel nog nie ’n bekommernis by kleuters nie.

Die manier hoe kleuters mekaar afknou verskil heeltemal van die manier waarop ouer kinders dit doen, hoewel afknouery reeds in hulle kleuterjare kan ontwikkel. Wanneer daar ’n begrip is vir hoe afknouery op verskillende maniere onder kleuters kan ontwikkel, sal kleuterskoolonderwysers dit makliker vind om dié tipe gedrag stop te sit. Hier is ’n paar dinge waarna hulle kan oplet:

  • Deur te sê “Jy mag nie saam met my speel nie” is die tipe gedrag wat maklik in sosiale afknouery kan ontaard indien dit nie vroegtydig aangespreek word nie. Hierdie tipe gedrag sal latere jare na meer gesofistikeerde vorme van afknouery soos sosiale uitsluiting lei wat gewoonlik onder ouer kinders en selfs volwassenes voorkom. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n kind iets sê soos: “Jy kan nie saam met my speel as jy maats met X is nie.”
  • Deur te skreeu “Myne!” terwyl die kleuter ’n pak lekkers of ’n speelding gryp. Hierdie tipe gedrag word nie noodwendig as afknouery geklassifiseer nie, maar wanneer dit die heeltyd toegelaat word wanneer dit opsetlik en herhaaldelik op een kind gemik word, kan dit op ’n latere stadium in afknouery ontaard. Dit is ook belangrik dat kinders moet leer om mededeelsaam te wees en dat ons dan iets vir hulle sê soos: “Jy kry ’n beurt om met die pop te speel, maar dan mag jou maatjie ook ’n beurt kry.” Nog ’n voorbeeld hiervan is: “Jy mag van die pak lekkers eet, maar jy moet die lekkers ook met jou maatjie deel.”
  • Wanneer kinders karakters speel-speel uitbeeld. Kinders kan speletjies speel waar hulle maak asof hulle karakters in ’n familie is soos byvoorbeeld die pa, ma, baba en troeteldier. Die kinders wat die meer dominante karakters speel-speel uitbeeld (soos die pa of ma) kan dan later in die boelies ontaard en dit kan moontlik tot gevolg hê dat die ander kinders die minder dominante rolle uitbeeld (soos die baba, troeteldier of slegte persoon in die speletjie) en mettertyd die slagoffers word. Dit kan ’n wanbalans van mag veroorsaak wat dan natuurlik later tot afknouery kan lei.
  • Wanneer kleuters geheime en stories in mekaar se oor fluister of mekaar lelike name noem. Wanneer die fluistering in skinderstories ontaard of om persoonlike inligting te versprei, wanneer lelike name in beledigings verander en wanneer een kind aanhoudend die teiken is, dan kan hierdie kinderspeletjies as afknouery gesien word.

Kleuterskoolonderwysers moet te alle tye gereed wees om afknouery te voorkom, in te gryp en op te volg wanneer hulle die verskillende maniere verstaan waarop kinders by die verskillende vorme van afknouery betrokke kan raak.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

Bronne:

Gaete, J., Valenzuela, D., Rojas-Barahona, C., Valenzuela, E., Araya, R. en Salmivalli, C. 2017. The KiVa anti-bullying programme in primary schools in Chile, with and without the digital game component: study protocol for a randomized controlled trial. Trials. 18(75):1-9.

Storey, K. en Slaby, R. 2013. Eyes on bullying in early childhood. USA, MA: Education Development Center, Inc.

Soortgelyke plasings