Afknouery in skole – jou kind kan ’n slagoffer wees
Deur: Leandie Bräsler
Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie. Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks op ’n globale skaal afgeknou. Navorsing toon dat boelies daarop uit is om sekere kinders te treiter en af te knou weens verskeie redes soos verskille in etniese- en kultuurgroepe, liggaamlike voorkoms, of seksuele- of geslagsoriëntasie.
Vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief vind daar gereeld voorvalle van afknouery plaas, soos byvoorbeeld die voorval in Maart 2016 waar ’n leerder by ’n skool in Kaapstad ’n ander leerder met ’n baksteen teen die kop gegooi het. Twee seuns was by hierdie voorval betrokke. ’n Ander voorbeeld van afknouery het in 2016 in Stellenbosch plaasgevind waarna twee boelievideo’s die rondte op sosiale media gedoen het. Die eerste video het gewys hoe ’n skoolmeisie aangerand is en, in plaas daarvan dat hulle haar help, was haar medeleerlinge blote omstanders, wat selfs video’s van die voorval geneem het. In die tweede video het van die leerders egter die afknouery probeer stopsit. ’n Familielid van die slagoffer in die tweede video het gesê dat ’n klag teen die aanvaller ingedien is. Sy het bygevoeg dat hierdie tipe voorvalle nie toegelaat kan word nie en dat negatiewe gevolge kan ontstaan, soos kinders wat te bang is om skool toe te gaan en ook die moontlikheid van die ontwikkeling van selfmoordneigings. Sy het ook aangedui dat dinge nie kan aangaan soos wat dit tans voortduur nie.
Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller gerig word. Noorse navorser Olweus het die volgende drie karaktereienskappe van afknouery geïdentifiseer:
- Aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak;
- Oor ’n tydperk word hierdie aksies herhaal; en
- ’n Wanbalans van mag wat die slagoffer hulpeloos laat waar hy nie homself doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.
Afknouery kan verskeie vorme aanneem, naamlik:
- Fisies (skop, slaan of boks);
- Verbaal (noem kinders name, spot dryf of dreigemente);
- Emosioneel (sosiale uitsluiting, intimidasie deur gebare of dreigemente);
- Rassistiese afknouery;
- Seksueel; en
- Kuberafknouery (deur die internet – sosiale media soos Facebook; of selfone – haatboodskappe, bedreigings).
Daar is baie ouers wat nie bewus is van die feit dat hul kind moontlik ’n slagoffer van afknouery in die skoolomgewing kan wees nie – totdat dit te laat is. Kinders wil nie altyd hul ouers vertel dat hulle afgeknou word nie, omdat hulle dalk bang is vir wat die boelie aan hulle sal doen as hulle uitpraat, of hulle voel dalk skaam of verleë. Daar kan baie redes wees waarom jou kind jou nie wil vertel dat hy afgeknou word nie. Dit beteken dus dat dit jou werk as ouer is om ’n oog (en ’n oor) op jou kind te hou. Wees bewus!
Hier is vyf tekens wat kan aandui of jou kind ’n slagoffer van afknouery is:
- Ongewillig om skool toe te gaan
As jou kind dit normaalweg geniet om skool toe te gaan en ewe skielik nie meer wil gaan nie, kan dit daarop dui dat jou kind by die skool afgeknou word. Moenie gefrustreerd raak deur sy ongewilligheid om daaroor te praat nie, maar sit eerder en gesels met jou kind oor die redes waarom hy nie meer wil skool toe gaan nie. Ouers moet geduldig wees as kinders aanvanklik bietjie senuweeagtig is om hulle te vertel wat aangaan.
- Veranderinge in slaappatrone
Studies toon dat 36% van kinders wat slagoffers van afknouery is slaapprobleme het. Kinders wat afgeknou word, kan soms parasomnia of nagmerries ervaar. Afknouery kan ook tot depressie by kinders lei, wat dan kan veroorsaak dat kinders sukkel om te slaap of te veel slaap.
- Verandering in geaardheid
As ouer moet jy jouself afvra of jou kind se geaardheid verander het en of hy buierig is waar hy voorheen gelukkig of toeganklik was. Só ’n verandering kan met hormonale kwessies geassosieer word, veral by tieners, maar dit kan ook ’n teken wees dat iets of iemand jou kind seermaak. Ouers ken hul kinders die beste, daarom is dit juis belangrik dat hulle op hoogte van hul kinders se houdings en buie bly.
- Vriendverskuiwings
Hou jou kind se vriendegroep dop, want só kan jy agterkom wie hy ignoreer. Jou kind kan homself van ’n vorige vriendegroep distansieer.
- Afname in punte
’n Afname in akademiese prestasies of punte kan die gevolg wees van kinders wat nie bereid is om skool toe te gaan nie, juis omdat hulle afgeknou word. Die skool word ’n omgewing waar vrees en angstigheid gekweek word, eerder as ’n omgewing waar daar geleer en genot gevind word. Dít kan negatiewe gevolge vir kinders inhou, juis omdat hulle hul belangstelling in hul skoolwerk verloor. Ouers moet hul kinders se akademiese punte moniteer en as daar ’n geweldige afname is, is daar ’n moontlikheid dat groter probleme die oorsaak kan wees.
Ander waarskuwingstekens van afknouery sluit die volgende in:
- Onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye en krapmerke;
- Vrees om skool toe te gaan, om skool toe te ry met die skoolbus, of om skooltoe of huistoe te loop;
- Verskonings word opgemaak oor hoekom hulle nie skooltoe kan gaan nie;
- Verlies aan eetlus of verandering in eetgewoontes;
- Vernietigde of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle; of
- Gereelde klagtes oor maagpyn, hoofpyn, naarheid, of gee voor dat hy siek voel.
Watter stappe moet jy volg as jou kind/kinders afgeknou word?
Die bostaande waarskuwingstekens kan aandui dat jou kind ’n moontlike slagoffer van afknouery is, maar dit kan tekens van ander vorme van mishandeling ook wees. Ouers moet met skoolpersoneel praat, asook met hul kinders, wanneer enige van hierdie tekens by kinders voorkom.
Wanneer jy met jou kind gesels, moenie bloot reguit vra of hy geboelie word nie. ’n Beter manier waarop hy genader kan word, sluit in:
- “Afknouery word oral op die nuus/sosiale media bespreek. Is daar afknouery wat tans in jou skool plaasvind?”
- “Ek is bietjie bekommerd oor jou. Is daar enige kinders in jou klas/skool wat jou dalk moeilikheid gee of wat jou afknou?”
- “Word jy dalk deur kinders in jou skool op ’n neerhalende manier gespot?”
- “Is daar enige kinders in jou skool wat jou aspris uitsluit by hul vriendekringe?”
As hul ouer moet jou kinders besef dat jy vir hulle lief is en altyd daar is vir hulle. Dit is dus belangrik dat hulle moet weet dat hulle enige tyd met jou kan kom praat as daar dinge is wat hulle pla. Dit is ook baie belangrik om noue bande met jou kind se skool te hê, sodat jy sal weet wanneer daar iets aan die gang is, soos jou kind wat moontlik afgeknou word. Jy kan dan ’n onderwyser kontak om oor jou kind te gesels, omdat jou kind se onderwyser in die beste posisie is om hulp te bied, juis omdat hulle die verhoudinge tussen kinders en hul skoolmaats verstaan.
In die volgende artikels gaan daar op die volgende gefokus word:
- Is jou kind dalk die boelie?
- Identifisering en verduideliking van die verskillende vorme van afknouery
- Oorsake van skoolgeweld en afknouery
- Impak van afknouery in skole
- Identifisering van die verskillende rolle wat leerders in afknouery speel
- Ingrypings om afknouery in skole stop te sit
Bronne:
Botha, R. 2016. Media24: Second bully video emerges from Stellenbosch school. Internetbron. Beskikbaar by: http://www.news24.com/SouthAfrica/News/second-bullying-video-emerges-from-stellenbosch-school-20161207. (Toegang 2 April 2017).
De Villiers, J. 2017. Media24: 14-year-old hit with brick at Cape school. Internetbron. Beskikbaar by: http://www.news24.com/SouthAfrica/News/watch-14-year-old-hit-with-brick-at-cape-school-20170315. (Toegang 3 April 2017).
Gaete, J., Valenzuela, D., Rojas-Barahona, C., Valenzuela, E., Araya, R. and Salmivalli, C. 2017. The KiVa antibullying programme in primary schools in Chile, with and without the digital game component: study protocol for a randomised controlled trial. Trials. 18(75):1–9.
Holben, D.M. and Zirkel, P.A. 2016. School Bullying Case Law: Frequency and Outcomes for School Level, Protected Status, and Bullying Actions. Ethical Human Psychology and Psychiatry. 18(2):111–133.
Meeker, M. 2016. 5 Signs Your Child Is Being Bullied at School. Internetbron. Beskikbaar by: https://megmeekermd.com/blog/5-signs-your-child-is-being-bullied-at-school/. (Toegang 12 April 2017).
Stopbullying.gov. 2017. Warning signs for bullying. Beskikbaar by: https://www.stopbullying.gov/at-risk/warning-signs/index.html. (Toegang 12 April 2017).
Unesco. 2017. School Violence and Bullying: Global Status Report. Frankryk, Parys: Unesco.
UN News Centre. 2017. Bullies target physical appearance, ethnicity, gender or sexual orientation – UN reports. Beskikbaar by: http://www.un.org/apps/news/story.asp?NewsID=55984#.WO3gpWl97IV. (Toegang 10 April 2017).