|

AfriForum eis dringende ondersoek ná tradisionele raad se kantoor in Noordwes ineenstort

AfriForum het vandag ’n dringende beroep op Dean Macpherson, minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, gedoen om ondersoek in te stel na die ineenstorting van ’n gedeelte van die kantoorkompleks van die tradisionele raad van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi- tradisionele gemeenskap van Disaneng, in die omgewing van Mahikeng, Noordwes. Die kantoor het Woensdag 29 Januarie om 18:30 – enkele ure nadat die laaste mense die gebou verlaat het – gedeeltelik ineengestort.

Konstruksie van die kantoorkompleks het in 2016 begin en is in 2018 aan die tradisionele raad oorhandig. Sedert dit in 2018 betrek is, is verskeie probleme met die konstruksie geïdentifiseer en aangemeld. Die probleme het krake in die mure, gapings tussen die plafon en mure, waterlekke en insakking van die dak ingesluit. ’n Onafhanklike ondersoek wat deur die tradisionele raad aangevra is, het spesifiek uitgewys dat van die probleme ’n negatiewe impak op die strukturele integriteit van die gebou kan hê. Die Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer van Noordwes het egter geen aksie geneem nie. AfriForum benadruk dat die gebou se ineenstorting – wat genadig nie met ’n verlies aan menselewens gepaardgegaan het nie – voorkom kon word.

In sy brief aan Macpherson doen AfriForum ’n dringende oproep op die minister om ’n ondersoek te doen om die grondoorsake van die gebou se ineenstorting te bepaal en vas te stel waarom die gerapporteerde probleme jare lank geïgnoreer is. AfriForum waarsku voorts dat ander regeringsgeboue moontlik dieselfde risiko’s kan inhou en dat die owerheid dergelike strukture moet identifiseer én handelend moet optree om soortgelyke gevalle te verhoed.

“Dringende optrede deur die minister is noodsaaklik. Menselewens is op die spel. Dit is net genade dat die gebou inmekaargesak het op ’n tyd wat daar niemand in die gebou was nie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum. “Dié gebeure kon egter ’n tragedie tot gevolg gehad het. Ander regeringsgeboue binne tradisionele gemeenskappe loop moontlik dieselfde gevaar en is weens die owerheid se miskenning van die probleme ’n tikkende tydbom.”

Uys voer aan dat uitdagings soos dié die waarde van goeie interkulturele verhoudings en samewerking beklemtoon. “Kultuurgemeenskappe hét mekaar nodig en daarom bou AfriForum aktief aan ’n netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar kan bystaan om ’n toekoms vir al die gemeenskappe se kinders hier aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sluit Uys af.

AfriForum en die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi het in 2023 bande gesmee en sedertdien verskeie gesamentlike projekte aangepak wat fokus op die bevordering van kulturele identiteit en gemeenskapselfstandigheid.

Soortgelyke plasings