|

AfriForum vra Trump om nie Suid-Afrika vir ANC se sondes te straf nie

AfriForum gaan ’n amptelike skrywe aan die Amerikaanse regering rig om te vra om nie Suid-Afrika se inwoners vir die sondes van die ANC te straf nie. Dit volg ná Donald Trump, die Amerikaanse president, aangekondig het dat hy, hangende ’n ondersoek na onteiening, alle toekomstige finansiering aan Suid-Afrika gaan staak. AfriForum sal in die skrywe vra dat enige strafmaatreëls wat die VSA oorweeg, eerder direk op senior ANC-leiers gemik moet word.

Die Amerikaanse regering het verlede jaar meer as $400 miljoen se projekte in Suid-Afrika finansier. Dié projekte was grootliks gemik op die bekamping en behandeling van MIV/Vigs, terwyl sekere Suid-Afrikaanse universiteite ook geld van die Amerikaanse regering ontvang het. Hierdie finansiering was egter reeds vóór Trump se nuutste aankondiging in gedrang, nadat Trump in Januarie aangekondig het dat Amerika se humanitêre hulp aan projekte wêreldwyd vir 90 dae gevries gaan word.  

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie reeds president Cyril Ramaphosa en die ANC gewaarsku dat die ondertekening van die Onteieningswet sowel as die toepassing van die land se bestaande raswette ernstige negatiewe implikasies vir beleggersvertroue in Suid-Afrika inhou. 

Kriel benadruk dat daar ernstige kommer bestaan oor die impak wat Trump se strafmaatreëls sal hê op gewone landsburgers wat reeds onder ekonomiese druk gebuk gaan.

In reaksie op Trump se aankondiging het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê dit is duidelik dat die Amerikaanse president van die Onteieningswet kennis neem en dat dit en die Suid-Afrikaanse regering se voortgesette regstryd teen Israel waarskynlik tot Trump se optrede gelei het. Die Beweging voel, soos AfriForum, dat enige strafmaatreëls direk op ANC-leiers gemik moet wees en nie op die res van die bevolking nie.

“Die Solidariteit Beweging gaan die Trump-administrasie vra om druk op die ANC se beleidsrigtings te plaas, maar om nie gewone Suid-Afrikaners te straf deur maatreëls wat groter werkloosheid veroorsaak of die weerloses benadeel nie. Ons hou nie van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Om hulp aan Suid-Afrika te sny sal die verkeerde mense raak,” het Buys gesê.

Volgens die Beweging het die VSA ook ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat grondwetlike beloftes soos eiendomsreg, moedertaalonderrig in skole en universiteite en die afskaffing van rassediskriminasie nagekom word, omdat dié beloftes instrumenteel was in die grondwetlike skikking van die 1990’s.

AfriForum het verlede week ’n driepuntplan aangekondig waarmee die Onteieningswet beveg sal word. Een aspek hiervan is om die internasionale gemeenskap te vra om druk op die ANC-regering toe te pas om van die Onteieningswet afstand te doen.

Soortgelyke plasings