| |

AfriForum vra Trump om eerder ANC-leiers as Suid-Afrika te straf

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan ’n amptelike skrywe aan die Amerikaanse regering rig en versoek dat strafmaatreëls wat president Donald Trump teen Suid-Afrika wil instel, eerder senior ANC-leiers direk moet teiken en nie Suid-Afrika se inwoners nie. AfriForum se versoek volg veral in reaksie op ’n inskrywing wat Trump gisteraand, omstreeks 18:00 Amerikaanse tyd, op sy sosiale media gemaak het. 

AfriForum gaan ook ’n dringende versoek aan die Suid-Afrikaanse regering rig om, in ’n poging om hierdie krisis af te weer, ’n wysigingswet op die Onteieningswet ter tafel te lê wat die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika sal verseker.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie reeds president Cyril Ramaphosa en die ANC gewaarsku dat die ondertekening van die Onteieningswet sowel as die toepassing van die land se bestaande raswette ernstige negatiewe implikasies vir beleggersvertroue in Suid-Afrika inhou. 

Trump het die volgende inskrywing op sy sosiale media gemaak: “South Africa is confiscating land, and treating certain classes of people VERY BADLY. It is a bad situation that the Radical Left Media doesn’t want to so much as mention. A massive Human Rights VIOLATION, at a minimum, is happening for all to see. The United States won’t stand for it, we will act. Also, I will be cutting off all future funding to South Africa until a full investigation of this situation has been completed!” (Donald Trump Truth Social Post 06:19 PM EST 02/02/25)

Kriel benadruk voorts dat daar ernstige kommer bestaan oor die impak wat Trump se strafmaatreëls sal hê op gewone landsburgers wat reeds onder ekonomiese druk gebuk gaan. “AfriForum se standpunt is en was nog altyd dat die dwase owerheid en president gestraf moet word vir hulle vernietigende beleide eerder as die land se burgers,” het Kriel bygevoeg.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, sal later meer volledig op Trump se uitsprake oor Suid-Afrika reageer.

Dekfoto: Gage Skidmore, Wikimedia Commons

Soortgelyke plasings