|

Ysterpenlokvalle: Bly bedag, waarsku AfriForum

AfriForum doen ’n dringende beroep op motoriste om bedag te bly vir lokvalle op hoofroetes in die Pretoria-omgewing. Die burgerregteorganisasie monitor sedert verlede jaar tendense wat verband hou met lokvalle waarin ysterpenne, klippe en ander items gebruik word om motoriste te teiken, te beroof en in sommige gevalle te vermoor. Die voorkoms van lokvalle was in die afgelope paar maande egter steeds kommerwekkend algemeen, en AfriForum-buurtwagte sal nou hul fokus verskerp om sogenaamde ysterpenlokvalle en ander verwante misdade op paaie te bekamp en slagoffers by te staan.

Insidente wat in die afgelope paar maande in Pretoria en omliggende gebiede aangeteken is, kom volgens AfriForum, op veral die N1, N4, N12, N14, R566 en R80 voor. Die organisasie waarsku egter dat voorvalle nie tot dié roetes beperk is nie.

“AfriForum-buurt- en -plaaswagte in die gebiede aangrensend tot dié brandpunte sal hulle steeds op die bekamping van dié lokvalle toespits. Ons het ook ’n spesifieke opleidingsmodule ontwikkel om ons patrolleerders te bemagtig om dié tipe misdaad doeltreffend te hanteer,” verduidelik Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Uit die data wat AfriForum reeds oor dié misdaad versamel het, het sekere tendense na vore gekom. Dit toon onder meer dat hoewel hierdie misdade enige dag van die week voorkom, die aanvalle eerder gedurende die nagtelike en vroeë oggendure gepleeg word.

Voorts is bevind dat aanvallers in groepe van twee tot tien individue werk en gewoonlik gewapen is met items wat varieer van skerp voorwerpe, soos messe, tot vuurwapens. Misdadigers benut verskeie tegnieke om voertuie tot stilstand te dwing, insluitend die neerlê van ysterpenne op die padoppervlak; die plasing van poppe in die pad om die indruk van ’n beseerde persoon te skep; die plasing van klippe op die pad om die roete te blokkeer; of die gooi van klippe na bewegende voertuie vanaf brûe met die doel om die bestuurder te dwing om te stop of om beheer van die voertuig te verloor en ’n ongeluk te veroorsaak.

AfriForum moedig motoriste aan om alle voorvalle van lokvalle dadelik by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en hul naaste AfriForum-buurtwag aan te meld.


Die organisasie doen ook ’n beroep op die publiek om die volgende belangrike veiligheidsriglyne te volg om hul teen soortgelyke aanvalle te beskerm:

  • Moet onder géén omstandighede jou voertuig stop nadat die voertuig se bande, windskerm of enige ander onderdeel beskadig is nie. Hou aan ry totdat jy die naaste veilige bestemming bereik.
  • Kontak plaaslike buurtwaggroepe, sekuriteitsmaatskappye of nooddienste dadelik om enige voorvalle aan te meld. Verskaf volledige inligting oor die item(s) wat in die lokval gebruik is sowel as die ligging van die lokval om verdere pogings tot aanvalle op ander motoriste te help voorkom.
  • Maak seker jou selfoon is volgelaai voordat jy op jou reis vertrek.
  • Deel jou ligging met geliefdes, veral wanneer alleen gereis word.
  • Bly paraat en kom in die gewoonte om die pad voor jou dop te hou vir moontlike bedreigings, verdagte voorwerpe of individue wat op of naby die pad is.
  • Stoor die noodnommers van plaaslike nooddienste, buurtwagte of sekuriteitsmaatskappye op jou selfoon.
  • Oorweeg die gebruik van ’n noodreaksie-selfoontoepassing,soos AfriForum se gratis 911-noodknoppietoepassing. Hierdie toepassing is beskikbaar vir Android-toestelle op die Google Play Store en vir iOS-toestelle op die App Store.

Besoek AfriForum se veldtogblad www.roofroetes.co.za en bly op hoogte van nuwe verwikkelinge en inisiatiewe wat met hierdie veldtog verband hou.

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings