AfriForum gaan rasionaliteit van Nersa se Eskom-tariefverhogings ondersoek
Kragverbruikers moenie langer vir Eskom-korrupsie betaal nie – AfriForum
Die burgerregteorganisasie AfriForum is gereed om die rasionaliteit van die kragtariefverhogings wat vandag deur die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vir Eskom aangekondig is, te ondersoek en te bepaal of dit aan al die wetlike vereistes voldoen. Nersa het vandag goedkeuring vir ’n Eskom-tariefverhoging van 12,74% vir 2025/2026, 5,36% vir 2026/2027 en 6,19% vir 2027/2028 aangekondig. Dié verhogings is veel laer as die aansoek van 36,14%, 11,81% en 9,1% waarvoor die kragvoorsiener vir die drie finansiële jare gedoen het.
Nersa se aankondiging volg net ’n dag ná die bekendstelling van Eskom se ouditeursverslag deur die ouditeur-generaal. Eskom het vir die derde agtereenvolgende jaar ’n gekwalifiseerde oudit met bevindings gekry.
“Alhoewel dit blyk dat Eskom tans beter vaar met die lewering van krag aan verbruikers, bly gesonde, verantwoordbare finansiële bestuur maar eenmaal ’n kuns wat hulle nie kan bemeester nie,” verduidelik Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
AfriForum het die reguleerder verlede jaar in ’n voorlegging by die openbare verhore wat oor die Eskom-tariefverhogingsaansoek gehou is, gemaan om nie Eskom se verhaling van uitgawes wat wederregtelik aangegaan is, verder toe te laat nie. “Die ouditeur-generaal se verslag bevestig dat finansiële verliese en vrugtelose, verkwistende en onregmatige uitgawes weens kriminele optrede en swak interne beheer van uitgawes ’n ernstige probleem in Eskom is,” sê Mostert. “Uit die tariewe wat vandag vir die kragvoorsiener goedgekeur is, kom dit voor asof Nersa Eskom se voortgesette verhaling van wederregtelike uitgawes deur middel van kragtariewe toelaat.”
“Kragverbruikers mag nie langer verantwoordelik wees vir die befondsing van Eskom se korrupsie nie. Totdat finansiële wanbestuur nie by Eskom uitgeroei word nie, moet Nersa toesien dat geen onnodige kostes aan verbruikers oorgedra word nie,” sluit Mostert af.
AfriForum benadruk dat ondersoek na die rasionaliteit van Nersa se besluit nou in die belang van kragverbruikers gedoen sal word, om te verseker dat verbruikers na behore beskerm word.