Misdadiger wat deur Songloed-kameras gekiek is, kry 12 maande tronkstraf
Een van die misdadigers wat sy rieme styfgeloop het met die kameras wat AfriForum se Songloed-buurtwag in Klerksdorp opgerig het, is gisteroggend (29 Januarie) tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis. Hy is op dié kameras betrap toe hy met steierwerk op ’n verdagte tyd en plek beweeg het. Action Force, wat die kameras namens AfriForum se buurtwag moniteer, het vinnig gereageer en die kwaaddoener gearresteer.
Die Songloed-buurtwag het die kameras teen die einde van 2024 opgerig en gedurende Desember en Januarie is daar reeds 16 arrestasies gemaak te danke aan hierdie kameras. Action Force moniteer die kameras, reageer wanneer hulle verdagte aktiwiteite opmerk en deursoek verdagtes vir gesteelde goedere of toerusting wat gebruik kan word om ’n misdaad te pleeg – indien nodig sal ’n arrestasie gemaak word. Misdaad het danksy hierdie kameras merkbaar afgeneem in Songloed. Die AfriForum-buurtwag beplan om binnekort nóg kameras op te rig.
Dié buurtwag ry daagliks patrollies in skofte van twee ure elk in die volgende buurte: Declerqville, Songloed, Collerville, Elandsheuwel en Elandia. Daar is tans 46 patrollielede wat aktief patrollie ry, die lede is in die vyf areas ingedeel met ’n koördineerder in elke area wat die skofte moniteer.
“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van hoe tegnologie en toegewyde patrolleerders ’n reuseverskil aan ’n woonbuurt se veiligheid kan maak. Voeg daarby vinnige reaksie van die sekuriteitsmaatskappy wat die monitering doen en goeie samewerking met die SAPD en jy het ’n wenresep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Sluit vandag nog by die Songloed-buurtwag aan en help só om jou omgewing veilig te hou, kontak vir Henda Jordaan by 082 783 5272.