|

Uitspraak voorbehou in AfriForum-saak teen Mogale City-kragtariewe

Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het Woensdag uitspraak voorbehou in AfriForum se saak teen die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se nuwe kragtariefstruktuur wat tariewe op sekere gebruiksvlakke tot meer as 30% laat styg het. AfriForum voer aan dat die munisipaliteit stygende bloktariewe, tesame met ’n kragtariefverhoging, onregmatig geïmplementeer het. Die burgerregteorganisasie het die hof genader om dié besluit onwettige en ongeldig te verklaar. Uitspraak sal na verwagting op 3 Februarie gelewer word.

Die munisipaliteit het verlede jaar besluit om stygende bloktariewe te implementeer sonder om die publiek die geleentheid te gee om hierdie nuwe tariefstruktuur by die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se openbare verhore te betwis. Die munisipaliteit het in die verlede ’n vaste tariefstruktuur toegepas, maar tydens verlede jaar se openbare verhore bloot ’n 12,7%-verhoging aangekondig sonder om inwoners bewus te maak oor die instelling van die stygende bloktariefstruktuur. Dit het tot gevolg dat sommige inwoners en ondernemings buitensporig baie per eenheid krag betaal.

AfriForum het in samewerking met die burgerlike organisasie Krugersdorp Citizens United en lede van die Demokratiese Alliansie (DA) bewyse ingesamel oor die munisipaliteit se versuim om voldoende openbare verhore oor die nuwe tariefstruktuur te hou. Munisipaliteite word ingevolge artikel 152(1)(e) van die Grondwet verplig om gemeenskapsdeelname oor plaaslikeregeringsake aan te moedig.

“Die gebrek aan deursigtigheid oor die nuwe struktuur, tesame met die tariefverhoging, het klaarblyklik regulatoriese en etiese standaarde oortree,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Die implementering van hierdie tariefstruktuur het enorme finansiële druk op inwoners en plaaslike ondernemings geplaas. Dit is onaanvaarbaar dat verbruikers onregmatig belas word met tariewe wat nie eens aan wetlike riglyne voldoen nie.”

AfriForum is daartoe verbind om die belange van die gemeenskap te beskerm deur te verseker dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul optrede.

Soortgelyke plasings