Vee
|

AfriForum gaan help om veediefstal in Mpumalanga te takel

AfriForum se plaas- en buurtwagte sal binnekort ’n beduidende rol kan speel in die geveg teen veediefstal, veral in Mpumalanga waar dié misdryf hoogty vier. Die organisasie gaan opleiding aan sy Mpumalanga-veiligheidstrukture aanbied om met die stryd teen veediefstal te help. Hierdie opleiding sal plaas- en buurtwagte in staat stel om veediefstal, veral gesteelde vee wat vervoer word, te identifiseer.

AfriForum word oorval deur klagtes van boere wat probleme met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se veediefstaleenhede in Mpumalanga ondervind. AfriForum het op 20 Januarie ’n brief aan die provinsiale bevelvoerder vir die Mpumalanga-veediefstaleenheid gestuur om hierdie probleme onder sy aandag te bring.

Die oorsaak vir die swak optrede van Mpumalanga-veediefstaleenhede is hoofsaaklik weens ’n tekort aan hulpbronne. Elke veediefstaleenheid bedien meer as een polisiewyk vanaf ’n enkele dorp en het dus groot gebiede waarna hulle moet omsien. Daar is nie genoeg lede om al die werk te kan doen nie én daar is ’n tekort aan voertuie. Boonop moet die lede ook hofsake bywoon wat die druk net vererger weens die personeel- en voertuigtekorte.

Verder het die speurders nie die nodige toerusting om hul werk doeltreffend uit te voer nie. In slegs een van die veediefstaleenhede se wyke is daar meer as R6 miljoen se vee oor ’n tydperk van 12 maande gesteel en slegs R2,5 miljoen se vee is in dieselfde tydperk teruggevind. Hierdie randwaarde is net van toepassing op beeste, skape en bokke wat gesteel en teruggevind is en nie ander diere soos varke en perde nie.

Die jongste tegniek wat veediefstalsindikate gebruik, is om gesteelde vee na ander provinsies, veral Gauteng en KwaZulu-Natal, te vervoer en verkoop.

“Hierdie geld word in die onderwêreld ingeploeg en misdadigers begin hiermee al hoe meer gesofistikeerde maniere kry om vee te steel. Voertuie word gekoop en sleepwaens word gehuur, soms ook met vervalste identiteitsdokumente,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Aangesien sindikate gesteelde vee so ver vervoer, wil AfriForum juis help om veediefstal te pak. AfriForum se buurt- en plaaswagte sal opgelei word om verdagte voertuie en sleepwaens saam met die SAPD te ondersoek, omdat gewone SAPD-lede nie alle prosedures ken rakende die vervoer van vee nie. Die AfriForum-plaas- en buurtwagte sal onder meer leer waarvoor om uit te kyk en watter dokumentasie saam met die diere vervoer moet word. Die merk en identifikasie van diere is ook ’n belangrike taak, dus sal AfriForum se veiligheidstrukture ook opgelei word om hierdie prosesse te verstaan.

“Ons gaan nie agteroorsit en toelaat dat die SAPD se hande vasgebind word nie. Daar is nog goeie polisielede wat hard werk om vee-eienaars te help. AfriForum gaan dus sy eie lede bemagtig om die SAPD se veediefstaleenheid te help om veediefstal te bekamp,” sluit Bekker af.

Soortgelyke plasings