AfriForum stel blink toekoms vir Tshwane-metro se vulliskrisis voor
Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se probleme met vullisverwydering en afvalbestuur kan iets van die verlede wees, mits die metro bereid is om magte na die privaatsektor en organisasies soos AfriForum af te wentel. Die burgerregteorganisasie het onlangs met die metro vergader en ’n beroep op die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, gedoen om ’n model vir afvalbestuur te oorweeg wat inwoners die keuse gee om van die metro se dienste gebruik te maak óf van private diensverskaffers.
“Hierdie benadering sal druk van die munisipaliteit afhaal en die bestuur van vullis deurlopend verbeter. Selfs tydens arbeidsgeskille sal die metro nie onder vullis begrawe word nie, want ander diensverskaffers sal steeds vullis kan sorteer en verwyder,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van veiligheid in die Noordstreek.
Die burgerregteorganisasie het al vroeg in 2025 sy herwinningsprojek in gebiede soos Groenkloof vergroot en beplan om dit na ander areas in Pretoria uit te brei. AfriForum-buurtspanne in Pretoria het in 2024 nagenoeg 15 517 sakke vullis verwyder en 43 560 kg vullis herwin.
Weens gebrekkige bestuur en ’n tekort aan hulpbronne, heers daar egter steeds ’n enorme vulliskrisis in die metro. Die metro beskik tans oor slegs vier werkende vullisterreine, wat beteken dat dié terreine dikwels oorlaai word en nie behoorlik gerehabiliteer kan word nie. Daar is boonop vertragings in die versameling en wegdoening van hierdie vullis, wat die opeenhoping vererger.
AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit het boonop aan die lig gebring dat veiligheidsmaatreëls op vullisterreine en oorlaaistasies in die metro, onvoldoende is. Benewens die gevare op vullisterreine, gaan die bedryf ook gereeld gebuk onder stakings wat dienslewering ontwrig. Stakings soos die een in 2023, wat vir weke lank geduur het, het toegesien dat afval ophoop en areas besoedel word, wat ernstige gesondheidsrisiko’s vir inwoners en troeteldiere ingehou het.
“AfriForum het die afgelope vyf jaar gespook om hierdie krisis onder die stadsbestuur se aandag te bring, maar nog geen daadwerklike verandering het daaruit gevloei nie. Dis om dié rede dat AfriForum se Centurion-tak dit op homself geneem het om aktief vullis te verwyder en te herwin. Dié projek sal later vanjaar na nog dele van Pretoria uitgebrei word,” sê Ungerer.
“Die vullisprobleme wat Pretoria in die gesig staar beklemtoon die behoefte aan ’n stabiele vullis- en afvalbestuurstelsel wat sonder onderbrekings kan funksioneer. ’n Gekombineerde benadering tot afvalbestuur – waar die openbare- en privaatsektor hande vat – sal nie net beter dienslewering bevorder nie, maar beleggings lok om afvalbestuur volhoubaar te verbeter.”
AfriForum doen ’n beroep op die Tshwane-metro om hierdie voorstel te ondersoek en die nodige stappe te doen om die voortslepende probleme die hoof te bied.
Lede van die gemeenskap kan intussen met AfriForum hande vat en broodnodige ondersteuning bied om ’n skoner omgewing vir nageslagte agter te laat. Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil te maak.