|

Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit moet inwoners nóú met water-, vullis- en rioolprobleme help

AfriForum doen ’n dringende beroep op die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit vir onmiddellike ingryping by die water-, vullisverwydering- en rioolprobleme wat dié munisipale gebied lamlê. Tussen November 2024 en nou, het AfriForum al talle briewe aan die munisipaliteit gerig oor die maandelange probleme in onder meer Roedtan en Naboomspruit, maar het nog geen terugvoer ontvang nie. AfriForum se hoofdoel is om uiteindelik ’n samewerkingsooreenkoms met die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit te sluit om die munisipaliteit met dienslewering te help.

Inwoners van Roedtan ervaar sedert September 2024 ’n ernstige tekort aan skoon water, wat ’n direkte bedreiging vir hul gesondheid inhou. AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong het in Oktober 2024 aangebied om ’n boorgat vir die Roedtan-gemeenskap te sink. Luidens Ntoampe Ben Thobela, die bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, sou die munisipaliteit egter self die boorgat sink maar ná vele kommunikasie is daar steeds geen water in Roedtan nie.

Boonop is daar ’n gebrek aan doeltreffende vullisverwydering in Roedtan en van tyd tot tyd ook in Mookgophong, wat lei tot ’n onhigiëniese omgewing en verdere gesondheidsrisiko’s. AfriForum het vroeër vandeesmaand ’n skrywe aan Thobela gestuur oor die haglike en onwettige toestande van die vullisterreine in Modimolle en Mookgophong. AfriForum het aangedui om te help om die probleme in die munisipale gebiede op te los. Die rioolstelsels in die Vaalwater-gebied is ook in ’n haglike toestand en dra by tot die besoedeling van die Mokolorivier. Die Vaalwater-sakekamer het in Julie ’n vergadering met die burgermeester gehad oor hul planne om self die rioolprobleme die hoof te bied. Die voorgestelde plan het behels om ’n pyp na die Landbou-unie se saal aan te lê om die gryswater vir besproeiing van die Landbou-unie se tuine en die sportgronde langsaan te gebruik. Die munisipaliteit het egter weereens nie die hulp van die gemeenskap aanvaar nie.

“AfriForum is besorg oor die munisipaliteit se versuim om sy grondwetlike pligte na te kom. Die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg elke burger se reg op toegang tot skoon water en ’n veilige omgewing. Die huidige toestand van die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit se water- en vullisdienste is onaanvaarbaar en vereis onmiddellike aandag,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo.

AfriForum is toegewyd aan die beskerming van die gemeenskap se regte en sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas om ’n veilige en gesonde omgewing vir al sy inwoners te verseker.

Soortgelyke plasings