Knysna-tak vat vullisbestuur vanjaar vas
Vullisbestuur is ’n wesenlike probleem in die Knysna Plaaslike Munisipaliteit en AfriForum is vasbeslote om in 2025 sy geveg voort te sit om die verval van munisipale dienslewering in dié pragdorp te verhoed. AfriForum het op verskeie geleenthede in 2024 ’n hand van samewerking aan hierdie munisipaliteit uitgereik, maar die munisipaliteit het nie die organisasie se hulp aanvaar nie. Die organisasie wil graag met die munisipaliteit in gesprek tree om saam oplossings te vind vir kwessies soos die nie-nakoming van wetlike vereistes by die Knysna- en Sedgefield-stortingsterreine, daarom het AfriForum opnuut die munisipaliteit genader om deel te neem aan dié organisasie se jaarlikse vullisterreinoudit.
In 2024 het AfriForum bevind dat die Sedgefield-terrein slegs 22% nakoming aan die minimum wetlike vereistes vir die bestuur van vullisterreine behaal het, terwyl die Knysna-terrein ’n skokkende 12% nakoming behaal het. Hierdie uitslae is tekenend van die algehele wanbestuur wat op hierdie terreine heers en beklemtoon die erns van die situasie.
Van die mees kritieke wetlike vereistes wat ontbreek is ’n gebrek aan:
- toegangsbeheer en behoorlike omheining;
- inspeksie en kontrole oor watter tipe vullis gestort word;
- voldoende, werkende masjinerie en
- beheer oor die brand van vullis op hierdie terreine.
Daar is gereeld brande op die Knysna-terrein wat soms dae neem om ten volle te blus. Die smeulende vullis veroorsaak giftige rookwolke wat bydra tot lugbesoedeling in hierdie omgewing en ’n gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Daarbenewens was daar ook herhaaldelik probleme by die oorlaaistasie vir huishoudelike vullis in Knysna, wat verskeie kere daartoe gelei het dat vullis vir dae lank nie verwyder kon word nie en dus by die oorlaaistasie opgehoop het. Vullis wat ophoop en nie verwyder word nie, lei tot ernstige gesondheidsrisiko’s en skep ideale toestande vir die verspreiding van siektedraende plae soos rotte en insekte.
AfriForum het ook in 2024 ná herhaalde skrywes en aanmanings aan die Knysna-munisipaliteit oor die toestand van die pad na die Knysna-terrein self ingegryp en ’n privaat kontrakteur gekry om die pad te herstel sodat dit toeganklik is. Die herstelwerk het drie weke geduur en meer as R110 000 gekos.
“Ons is vasbeslote om in 2025 weereens ons hulp aan die munisipaliteit aan te bied. Die munisipaliteit moet hul trots in hul sak steek en die inwoners se belange eerste stel,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
“AfriForum gaan in Februarie as deel van ons jaarlikse vullisterreinouditprojek weer die terreine in Sedgefield en Knysna oudit om te bepaal of daar verbetering is. Ons sal ons bevindings met die munisipaliteit deel sodat oplossings in plek gestel kan word,” sê Erasmus voorts. “Die inwoners van Knysna is geregtig op doeltreffende en volhoubare dienslewering en AfriForum sal aanhou veg dat inwoners se regte gerespekteer word.”