AfriForum eis onmiddellike ondersoek na dood van Suid-Afrikaanse soldate in die DRK
AfriForum eis in ’n brief aan Angie Motshekga, minister van Verdediging en Militêre Veterane, ’n onmiddellike en deursigtige ondersoek na omstandighede wat ’n rol gespeel het in ’n M23-rebelle-aanval op ’n militêre basis by Sake, in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), waarin nege Suid-Afrikaanse soldate dood is.
Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se stabiliseringsending in die DRK ontplooi. Die aanval op die militêre basis by Sake het Donderdagoggend begin. Die basis is sowat 25 km vanaf Goma, hoofstad van die Noord-Kivu-provinsie in die DRK, en soldate het tydens die aanval sterk weerstand gebied om te probeer verhoed dat die rebellemag na die provinsiale hoofstad deurdring. Rebelle het egter teen gister aangevoer dat hulle sedertdien wel die stad ingeneem het.
In die brief aan Motshekga bevraagteken AfriForum die toereikendheid van die sending se beplanning, strategieë om risiko’s te verminder en die operasionele steun wat aan Suid-Afrikaanse soldate gebied is.
Voorts benadruk AfriForum die behoefte aan duidelikheid rakende die koördinering tussen die SANW, die Verenigde Nasies se stabiliteitsending (Monusco) en ander SAOG-magte, en dring aan op die instel van maatreëls om soortgelyke tragedies in die toekoms te verhoed.
“Die gesneuwelde soldate het, in die naam van vrede en stabiliteit, die hoogste prys betaal. Hul dood mag nie tevergeefs wees nie,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum. “Die regering is dit aan die families, medesoldate en alle Suid-Afrikaners verskuldig om aanspreeklikheid, deursigtigheid en die implementering van beter beskermingsmiddele te verseker om ons soldate in die veld te beskerm.”
AfriForum dring in sy brief aan die minister aan op antwoorde op die volgende kritieke vrae:
- Was die risiko’s wat met die operasie verband hou, voldoende geassesseer en gemitigeer?
- Wat was die vlak van logistieke, taktiese en mediese steun wat tydens die sending aan SANW-soldate gelewer is?
- Wat was die vlak van koördinering en kommunikasie tussen die SANW en ander betrokke magte in die sending?
- Watter maatreëls word gevolg om die families van die gesneuwelde soldate te ondersteun?
- Watter maatreëls word gevolg om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom?
AfriForum eis voorts dat die bevindinge van die ondersoek openbaar gemaak word om aan burgers die versekering te gee dat die regering alles moontlik doen om die land se gewapende magte te beskerm en deursigtigheid te handhaaf.
Dekfoto: Flickr, GovernmentZA