|

Tesourie moet belastingkrediete op mediesefondsbydraes verhoog, eis AfriForum

AfriForum het opnuut ’n beroep op die minister van Finansies gedoen om enige oorweging om belastingkrediete op mediesefondsbydraes in die 2025/26-boekjaar te skrap, heeltemal te laat vaar. AfriForum dring daarop aan dat die minister eerder op vanjaar se begrotingsrede aankondig dat belastingkrediet vir bydraes tot ’n mediese fonds in ooreenstemming met inflasie verhoog word.

Die regering het oor die afgelope 12 jaar toegelaat dat belastingkrediete op mediesefondsbydraes met byna R200 per maand vir ’n gesin van vier verminder, as inflasie in ag geneem word. Hiermee saam het die veranderende waarde van hierdie soort belastingkrediete nie eens met inflasie tred gehou nie. Daar is boonop sprake dat die Nasionale Tesourie belastingkrediete op mediese fondse wil skrap en dit gebruik om te help om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te finansier. Dié stap sal uiters onverstandig en onregverdigbaar wees.

“Om belastingkrediete op mediesefondsbydraes af te skaf gaan dit vir talle mense onmoontlik maak om lede van ’n mediese fonds te bly en juis ongelykheid in die gesondheidsektor vererger,” sê Louis Boshoff, AfriForum se veldtogbeampte vir gesondheid.

“Die regering beskuldig dikwels privaat hospitale en mediese fondse van buitensporige pryse, maar verswyg telkemale sy eie rol in die stygende koste van privaat gesondheidsorg,” sê Boshoff. “Dan wil die regering boonop maak asof NGV die enigste weg is om meer mense toegang te gee tot privaat gesondheidsorg, terwyl hy aktief beleide implementeer wat dit moeiliker maak vir mense om mediese fondse te kan bekostig.”

AfriForum wys ook daarop dat dit nie ’n gegewe is dat NGV enigsins geïmplementeer gaan word nie gegewe die talle grondwetlike besware teen die gewraakte wetgewing. “Waarom wil die regering nou geld insamel vir ’n stelsel wat heelwaarskynlik deur die howe ongedaan gemaak sal word? Die regering gee voor om vir armes om te gee, maar stel dan beleide voor wat dié wat onder ekonomiese druk is, sal knak,” sluit Boshoff af.

AfriForum sal aanhou om vir burgerregte te veg en teen onregverdige belastingbeleide te staan. Word vandag nog ’n ondersteuner van AfriForum om hierdie, en ander skadelike beleide, te beveg. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings