AfriForum prioritiseer veiligheid ná munisipaliteit swyg oor onveilige padtoestande in Kempton Park
AfriForum het vandag ’n opvolgskrywe aan die munisipale bestuurder van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit, dr. Imogen Mashazi, gerig oor die ernstige padveiligheidskwessies op die R23 en R21 naby die Serengeti-gholflandgoed in Kempton Park. Die brief volg nadat die munisipaliteit sedert Oktober verlede jaar swyg oor die afwesigheid van padmerke en verkeersligte op dié paaie. Motoriste moes die afgelope twee jaar hierdie paaie sonder bykans enige sigbare padmerke en werkende verkeersligte trotseer.
“Hierdie probleem hou ’n groot risiko vir padveiligheid in en lei tot toenemende frustrasie onder die gemeenskap,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “Dis om dié rede dat AfriForum se Kempton Park-tak versoek het dat die munisipaliteit ’n aksieplan saamstel met ’n gedetailleerde tydlyn om padmerke aan te bring en ander veiligheidsmaatreëls in te stel. Dis van uiterste belang dat hierdie kwessie onmiddellik aandag geniet om ernstige motorongelukke te voorkom.”
AfriForum het ook die munisipaliteit in kennis gestel dat, indien daar geen reaksie of ingryping binne vyf werksdae is nie, dat die burgerregteorganisasie en lede van die gemeenskap planne sal beraam om eindelik padmerke aan te bring om die veiligheid van motoriste te verseker.
“AfriForum dring daarop aan dat hierdie saak met die nodige erns hanteer word. Die gemeenskap verdien paaie wat veilig is en voldoen aan basiese standaarde,” sê Ferreira.
AfriForum moedig inwoners aan om betrokke te raak en padveiligheidskwessies in hul gebied aan te meld. “Ons sal voortgaan om gemeenskappe te ondersteun en druk toe te pas waar nodig om seker te maak dat die veiligheid van inwoners eerste gestel word,” sluit Ferreira af.
Stuur ’n e-pos aan kemptonpark@afriforumtak.co.za om by AfriForum se Kempton-tak betrokke te raak of om hierdie inisiatief te ondersteun.