|

Bly só veilig tydens vloede

Swaar reën het die afgelope tyd oor groot gedeeltes van die land uitgesak wat in sekere gebiede tot oorstromings gelei het. In Standerton het die AfriForum-buurtwag gehelp om die onderdorp te ontruim weens oorstromings. Die tweede sluis van die Grootdraaidam moes Dinsdagaand geopen word aangesien die dam toe reeds meer as 100% vol was en moontlik tot verdere oorstromings kon lei.

“Die plaaslike rampbestuursafdeling van die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit het areas geïdentifiseer waar daar waarskynlik probleme sou wees en die AfriForum-tak het gehelp om mense uit hul huise en ondernemings na die stadsaal te ontruim,” vertel Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

15 AfriForum-buurtwaglede was vir 30 uur aan diens en het gehelp om 23 mense na die stadsaal te ontruim waar skenkings van kos, water, komberse en matrasse onder meer vir die mense gewag het. Vier honde is selfs gered en is ook na die stadsaal geneem. Geen beserings is aangemeld nie. Die buurtwag het die rampbestuursafdeling ook gehelp om paaie te sluit. Alhoewel die situasie tans onder beheer is, is die buurtwag steeds op ’n gereedheidsgrondslag sou oorstromings weer die gebied bedreig.

In Standerton het die AfriForum-buurtwag gehelp om die onderdorp te ontruim weens oorstromings.

Oorstromings kan lewensgevaarlik wees vir mens en dier, maar deur behoorlike voorbereidings te tref en sekere eenvoudige stappe te doen, kan lewensverlies en beserings grootliks beperk word.

AfriForum het verlede jaar ’n gids Die moets en moenies tydens vloede saamgestel om mense oor vloede in te lig.

“Dis belangrik dat gemeenskappe en huisgesinne weet wat om voor, tydens en ná ’n vloed te doen en hierdie gids bevat al die elemente om te verseker dat hulle en hul geliefdes veilig sal wees tydens vloede,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Hewige reënbuie, kusstorms en die oorloop van damme veroorsaak vloede wat groot skade aan infrastruktuur en geboue kan aanrig, asook tot grondverskuiwing en kragonderbrekings lei.

Die gids raai mense aan om op hoogte te bly van die weerdiens se waarskuwings. Verder moet mense weet wat die vloedrisiko van hul area is en ontruimingsroetes bepaal en inoefen. Verskuif waardevolle items na hoër plekke en bêre belangrike dokumente in ’n waterdigte houer.

Gaan na die veilige plek wat jy in jou ontruimingsplan geïdentifiseer het of na waar die nooddienste aanbeveel. Moenie deur vloedwater loop of ry nie al lyk dit veilig. Water van ongeveer 15 cm diep wat vinnig beweeg kan jou voete onder jou uitslaan en water van 30 cm diep kan ’n voertuig meesleur. As jou voertuig wel meegesleur word, bly daarin of klim op die dak as die water dit binnestroom. As jy buite is tydens ’n vloed, beweeg na ’n hoër area en as jy in ’n gebou is, beweeg na die hoogste vlak of klim selfs op die dak indien nodig.

Mense dink dikwels as ’n vloed verby is, is daar nie meer ’n gevaar nie, maar dis beslis nie die geval nie. Dis steeds raadsaam om die owerhede se aanbevelings te volg en om nie jou voertuig te gebruik nie tensy daar ’n noodgeval is. Die gids beveel ook aan dat dik handskoene en stewels gedra word as huise skoongemaak word, aangesien slange en ander diere moontlik die huis kon binnekom. Mense word ook aangeraai om weg te bly van vloedwater af omdat dit rommel kan bevat of besmet kan wees. Wees verder bewus van die risiko’s van elektriese skok en skakel eers die elektrisiteit af om elektriese skok te voorkom. Laai die gids hier gratis af vir nog wenke.

Soortgelyke plasings