|

Burgerlike organisasies nodig sodat waterkrisis nie in 2025 voortduur – AfriForum

Ernstige waterprobleme oor die land heen het opnuut beklemtoon dat watersekerheid in Suid-Afrika meer as net beloftes vereis, maar daadwerklike optrede deur die regering. Die regering se pogings moet ook gerugsteun word deur burgerlike organisasies, soos AfriForum, wat oor die kennis en vermoëns beskik om Suid-Afrika se waterkrisis doeltreffend te pak. Dié behoefte is weer vroeg in die nuwejaar uitgelig toe vakansiegangers aan die KwaZulu-Natalse kus en die inwoners van Johannesburg die ernstige gevolge van Suid-Afrika se waterkrisis moes verduur. Rioolbesoedeling wat tot die sluiting van gewilde strande in Durban gelei het en die langdurige wateronderbrekings in Johannesburg het ernstige tekortkominge in infrastruktuur uitgelig en die bestuur van water- en sanitasiestelsels opnuut onder die vergrootglas geplaas.

“Die gebrek aan kapasiteit, befondsing en politieke wil, veral op munisipale vlak, sal na verwagting steeds in 2025 beduidende struikelblokke vir die land se watersekerheid bied,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

’n Belangrike vertrekpunt om in 2025 die krisis die hoof te bied, is die feit dat die Suid-Afrikaanse regering  in 2024 die erns van die land se water- en sanitasie-uitdagings erken en verskeie maatreëls ingestel het om dit te pak. Sleutel onder hierdie is die wysiging op die Wet op Waterdienste 108 van 1997, wat beoog om die regulering en bestuur van munisipale waterdienste te verbeter en munisipaliteite aanspreeklik te hou vir hul mislukkings.

“Die wysigings aan die betrokke wette kan toesig oor munisipaliteite verskerp, maar implementering bly ’n kritieke kwessie. Baie munisipaliteite het nie die tegniese kapasiteit of hulpbronne om aan die voorgestelde standaarde te voldoen nie, wat verdere nie-nakoming kan veroorsaak,” maan De Vaal.

Hoewel onlangse waterkrisisse reeds waardevolle lesse gebied het, soos toe Johannesburg Water se noodgedwonge instandhoudingswerk inwoners se behoefte aan beter kommunikasie beklemtoon het, asook die dringendheid van verbeterde noodbeplanning en ’n proaktiewe benadering tot infrastruktuurinstandhouding, is die enkele grootste bedreiging vir volgehoue watersekerheid munisipaliteite se enorme skuldlas van R23 miljard wat aan waterrade verskuldig is.   

“Dit plaas die volhoubaarheid van waterrade, wat verantwoordelik is vir die voorsiening van water in grootmaat aan munisipaliteite, in gedrang en beklemtoon dat wanpresterende munisipaliteite, wat byvoorbeeld nie behoorlike stelsels vir die invordering van waterrekeninge in plek het nie, reggeruk moet word,” voeg De Vaal by.

Waar munisipaliteite egter nie die mas opkom nie, het AfriForum toegesien dat noodwaterpunte in dorpe opgerig word. Só word daar toegesien dat gemeenskappe oor die land heen gratis toegang tot nagenoeg 100 noodwaterpunte het, met ’n gesamentlike kapasiteit van 800 000 liter tydens onbeplande wateronderbrekings. Verder beplan die burgerregteorganisasie om vanjaar ook sy plaaslike buurtspanne op te lei om riool- en waterlekkasies te herstel in ’n poging om onnodige waterverliese in die kiem te smoor.

Forums soos die Platform for a Water Secure Gauteng en die Vaal River Anti-Pollution Forum, waarby AfriForum ook betrokke is, is ook intussen op die been gebring om regeringsentiteite, rolspelers in die privaatsektor en die burgerlike samelewing bymekaar te bring om kundigheid te deel oor die hantering van waterkwessies. Tog is die impak van hierdie nuwe forums beperk sonder voldoende befondsing en duidelike meganismes om aanspreeklikheid te verseker.

“Hoewel die toekoms van Suid-Afrika se watersekerheid grotendeels afhang van die regering se vermoë om planne in aksie om te skakel, gaan AfriForum voortgaan om broodnodige opleiding te bied en met rolspelers in gesprek te tree om onnodige watervermorsing, wat deur gebrekkige infrastruktuur en instandhouding veroorsaak word, die hoof te bied,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings