|

Meesterbrein agter DA-raadslid se moord ontduik steeds arrestasie

’n Jaar ná Nhlahlayenza Ndlovu, ’n raadslid van die Demokratiese Alliansie (DA) genadeloos voor sy familie doodgeskiet is, blyk dit dat die polisie steeds nie nader daaraan is om die meesterbrein agter dié moord vas te trek nie. Dít ná die polisie self beweer dat hulle weet wie die meesterbrein is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Ndlovu se familie en was gister in die Howick-landdroshof waar die man wat van die moord beskuldig word, Thobani Hlongwa, vir sy borgaansoek verskyn het. Verskeie klagtes, waar onder sameswering om ’n moord te pleeg, staar Hlongwa in die gesig.

Vir die afgelope 12 maande het die privaatvervolgingseenheid gepoog om die polisie te betrek om inligting te verskaf wat moontlik tot die arrestasie van die meesterbrein kon lei. Generaal-majoor Dumisani Khumalo, hoof van Misdaad Intelligensie, het egter enige aanbod om samewerking verwerp.

In die borgaansoek het die ondersoekbeampte, sersant Delani Chemane, die saak as besonders gekompliseerd beskryf. Chemane het onder meer genoem dat Ndlovu en Zwelithini Buthelezi, die indoena van dié area, nie op goeie terme is nie as gevolg van Ndlovu se nimmereindigende stryd teen onwettige elektrisiteitsverbindings in die Mpophomeni-area. Die ondersoekbeampte beskryf Buthelezi as die “leier van daardie onwettige verbindings”. Volgens Chemane plaas selfoondata Hlongwa op die misdaadtoneel en bankstate wys dat geld in Hlongwa se rekening inbetaal is deur ’n ander verdagte. Chemane sê dat Hlongwa skuld beken het, maar Hlongwa sê die bekentenis is onder dwang bekom en hy sal ’n alibi as sy verdediging voorhou.

Na afloop van die verrigtinge het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê dat dit blyk of die staat ’n sterk saak teen Hlongwa het, maar dat talle vrae steeds onbeantwoord bly, veral dié wat verband hou met die indoena. “Vir die eerste keer het die staat toegegee dat ons hier met ’n politieke moord te make het. Hulle het aangedui dat dit ’n huurmoord was, so daar moet ’n meesterbrein wees. Die polisie sê hulle het die betaalmeester identifiseer, maar daar is geen aanduiding wanneer hulle nader aan ’n arrestasie gaan wees nie. Ons kliënte is bekommerd dat die meesterbrein steeds op vrye voet is. Die ondersoek moet daarop fokus om die meesterbrein in hegtenis te neem. Hulle wil weet wie die moord versoek het en hulle soek afsluiting.”

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in Mei vanjaar alarm gemaak nadat dit aan die lig gekom het dat die polisie Buthelezi in verband met ’n diefstalsaak in hegtenis geneem het, maar hy is vrygelaat sonder dat die staat sy borgaansoek teengestaan het. Die polisie het hom daarna as ’n verdagte identifiseer en gevra dat die publiek enige inligting oor sy doen en late deurgee.

AGTERGROND

Sluipmoordenaars het die hoofsweep van die uMngeni-munisipaliteit in Desember verlede jaar voor sy vrou en kinders vermoor. Hy is meer as tien keer geskiet. In Januarie vanjaar het die DA se onafhanklike taakspan AfriForum se privaatvervolgingseenheid as sy operasionele vennoot aangewys om die ondersoek na Ndlovu se moord te lei en die privaatvervolgingseenheid is getaak om ondersteuning en regsbystand aan die raadslid se familie te bied. Sedert Januarie het die privaatvervolgingseenheid aan uitgebreide konsultasies deelgeneem en verskeie belowende leidrade in die uMngeni-omgewing opgevolg.

In April het die privaatvervolgingseenheid aangekondig dat hy moontlik kritieke bewyse bekom het wat die ondersoek tot ’n einde kon bring, maar generaal-majoor Khumalo het alle kommunikasie met die eenheid afgesny, en sodoende ook kommunikasie met die slagoffer se familie beëindig. Daaropvolgende korrespondensie wat aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gestuur is bly steeds onbeantwoord. Die saak is uitgestel tot 9 Januarie 2025 vir die uitspraak in Hlongwa se borgaansoek.

Soortgelyke plasings