AfriForum dien formele versoeke om erkenning by Noord-Kaapse munisipaliteite in
AfriForum het vandeesweek amptelike briewe aan alle plaaslike en distriksmunisipaliteite in die Noord-Kaap gestuur waarin hy formele erkenning as ’n erkende plaaslike gemeenskapsorganisasie versoek, ingevolge artikel 4 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000).
AfriForum se takke in die Noord-Kaap is gevestigde, gemeenskapsgebaseerde burgerregteorganisasies wat ingevolge ’n grondwet funksioneer wat die regte van minderheidsgroepe beywer. Soos deur die Munisipale Stelselswet bepaal, het munisipaliteite ’n wetlike verpligting om ’n kultuur van gemeenskapsdeelname te bevorder, wat die erkenning van plaaslik-gebaseerde gemeenskapsorganisasies insluit.
AfriForum doen in die briewe dus formeel aansoek om hierdie erkenning en versoek munisipaliteite om bevestiging van ontvangs binne 14 dae ná ontvangs deur te stuur. ’n Gebrek aan reaksie binne hierdie tydraamwerk sal geïnterpreteer word as stilswyende goedkeuring van AfriForum se aansoek om erkenning.
“AfriForum beklemtoon die belangrikheid van samewerking tussen munisipaliteite en gemeenskapsorganisasies om plaaslike uitdagings aan te pak en inklusiewe regering te bevorder,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum-takke in die Noord-Kaap te ondersteun en ’n golf van positiewe verandering in die gemeenskap teweeg te bring.