AfriForum en ander nooddienste geaktiveer om gemeenskap dié feestyd veilig te hou
Met die feestyd wat op hande is, het AfriForum en ander nooddienste in Bloemfontein en omliggende areas hul paraatheid opgeskerp om gemeenskappe se veiligheid te verseker. Die Life Rosepark-hospitaal, in samewerking met Bloemfontein Shell Ultra City Pitstop, se jaarlikse veiligheidsinisiatief skop amptelik op 13 Desember af en AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein gaan hierby aansluit om ’n veilige en voorspoedige Kerstyd vir inwoners en besoekers te verseker.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), brandweer-, nood- en ander reddingsdienste, asook sekuriteits- en gemeenskapsveiligheidstrukture soos AfriForum se buurtwagte en brandweer, is almal gereed om ’n verskil dié feestyd te maak. Hierdie tyd bring tradisioneel ’n styging in reis- en ontspanningsaktiwiteite, maar só ook verhoog die risiko vir ernstige motorongelukke en traumagevalle.
“Die feesseisoen is ’n tyd waar families byeenkom om tyd saam te spandeer, maar dis ook ’n tyd wat talle gevare bring. AfriForum se GVS in Bloemfontein is daarom daartoe verbind om onverpoos saam met regeringsdepartemente, asook die openbare- en privaatsektor se nooddienste te werk om die gemeenskap veilig te hou,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.
Life Rosepark-hospitaal se jaarlikse pad- en gesondheidsveiligheidsveldtog word vir die afgelope 24 jaar saam met ander nooddienste aan vakansiegangers regdeur die Vrystaat aangebied.
In ’n poging om reisigers se veiligheid gedurende die Kerstyd te verseker, stel AfriForum voor dat elke motoris hul met die volgende veiligheidswenke vergewis:
Om ’n veilige reis te verseker moet jy:
- ’n deeglike voertuiginspeksie doen, waartydens die motor se bande, ligte, remme en olie nagegaan word;
- verkeersreëls volg en by die spoedgrense hou, nie ander motors op gevaarlike punte verbysteek nie en altyd ’n veiligheidsgordel dra; en
- jou reis vooruit beplan om te verseker dat jy gereelde rus- en eetpouses neem en bewus is van die naaste hospitale en nooddienste langs die roete.
Indien jy by ’n ongelukstoneel stop om te help, moet jy:
- ’n veilige parkeerplek vind;
- weet hoe om akkurate inligting aan nooddienste te verskaf soos die ligging, aantal beseerdes en voertuie betrokke;
- nie die toneel besmet of nooddienste se werk belemmer nie; en
- bewus wees van jou omgewing om sekondêre ongelukke te voorkom.
Om verdrinking te voorkom moet:
- klein kinders altyd onder toesig wees by swembaddens, riviere en damme;
- swemtoestelle gebruik word indien jy nie gemaklik of fiks is nie; en
- alkoholgebruik naby water vermy word.
Basiese noodhulpwenke sluit in:
- Bloeding beheer: Pas direkte druk met ’n skoon lap of verband toe.
- Kardiopulmonêre resussitasie (KPR): Indien iemand nie asemhaal nie, plaas hande op die borskas en doen 30 drukke gevolg deur twee asemhalings.
- Kontak onmiddellik nooddienste vir verdere ondersteuning.
Groenewald sê hierdie basiese wenke kan motoriste, voetgangers en vakansiegangers help om ’n veilige omgewing dié feestyd te verseker. Kennis oor die regte optrede tydens noodgevalle is ook ’n groot aanwins vir nooddienspersoneel, wat dikwels afhanklik is van verbygangers se samewerking.
AfriForum se GVS in Bloemfontein gaan sy bedrywighede dié Kerstyd opdra aan die wyle Dave Hoffman, ’n toegewyde paramedikus wat onbaatsugtig sy gemeenskap gedien het. “Sy skielike afsterwe laat ’n groot leemte in Bloemfontein se nooddienste, maar sy nalatenskap van uitnemende diens en medemenslikheid leef voort,” sê Groenewald.
“Ons bedank ook elke nooddienstepersoneellid wat hul tyd, en soms hul lewens, opoffer om ander te help. Hierdie feestyd staan ons saam om veiligheid en gemeenskap te prioritiseer – vir dié wat ons verloor het en vir diegene wat steeds onvermoeid werk om ons te beskerm,” voeg hy by.
Skakel AfriForum Bloemfontein se GVS-beheerkamer by 081 359 9949 tydens noodgevalle.
Sluit vandag by AfriForum se Bloemfontein-tak en -buurtwag aan om saam hoop te skep. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.