Gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek lewer ryke oeste én ploeg terug in die gemeenskap
’n Gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek wat AfriForum en ander rolspelers in die landbouwaardeketting sedert 2022 in samewerking met die Thabake Business Enterprise in Noordwes aanpak, begin vandag om nóg ’n ryke oes in te samel. Die oes van die derde aanplanting van murgpampoene het vandag ’n aanvang geneem en sal na verwagting deurlopend vir die volgende drie maande geoes word. Dié en vorige oeste beklemtoon die sukses van die projek wat ook tot voordeel van die plaaslike gemeenskap strek.
Lebo Mosime, die uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise, en haar span bedryf die projek op ’n gedeelte van die plaas Boekenhoutfontein naby Phokeng in Noordwes. Die vorige oes van meer as 400 kg rooikool is gelewer aan NutriPick, ’n leier in die verwerking van groente en vrugte en verskaffer aan groothandelaars. Meer as 800 kg groenbone is ook geproduseer. Ongeveer 500 kg hiervan is aan NutriPick en Spar Kroondal gelewer en die oorblywende 300 kg is aan die Tshimologo-hospies en Moremogolo Laerskool in Phokeng geskenk. Mosime het verder ook groenbonesaad aan die laerskool geskenk wat intussen suksesvol aangeplant is en tans deur die skool geoes word.
“Ek het my voorgeneem om ’n nalatenskap vir my kinders te skep,” verduidelik Mosime. “Dit is nie ’n maklike taak nie, maar ek bly toegewyd werk om my droom te bereik. ’n Mens kom baie uitdagings op hierdie reis teë wat met deursettingsvermoë oorkom moet word, maar die klein oorwinnings en die droom om dit vir my kinders te doen, hou my aan die gang. Ek streef daarna om elke dag onwrikbaar te werk om hier droom te bewaarheid. Dit is baie bevredigend om aan die vereistes van die verskaffers te voldoen en ’n kwaliteit produk te lewer. Ek het my ook voorgeneem om nie die enigste een te wees wat voordeel uit hierdie vennootskap trek nie, en daarom is dit ook vir my ’n groot voorreg om aan die gemeenskap terug te gee.”
“Hierdie projek toon konstante groei deur harde werk en toewyding en ons is trots op die prestasies wat reeds sedert die aanvang van dié vennootskap bereik is. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om Lebo te ondersteun om haar visie en droom ’n werklikheid te laat word,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
“Ons staan Lebo by met die uitbreiding van haar bestuurs- en beplanningsvermoë. Rolspelers met die nodige kundigheid oor variëteite, bemesting en plaag- en onkruidbeheer word ook betrek, terwyl herlewingslandboupraktyke ook stapsgewys geïmplementeer word om dié onderneming tot ’n volhoubare, winsgewende landbou-onderneming te laat ontwikkel,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai, een van die projekrolspelers.
“AfriForum is besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat mekaar kan ondersteun om ’n vervullende toekoms vir die kinders van al die kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika moontlik te maak. Ons betrokkenheid by projekte soos hierdie, verbeter nie net voedselsekerheid, gemeenskapselfstandigheid en stabiliteit op voetsoolvlak nie, dit speel ook ’n sleutelrol om samewerking en goeie verhoudinge tussen kultuurgemeenskappe, en daarom vreedsame naasbestaan oor die lang termyn, te verseker,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.