Uitspraak voorbehou in AfriForum se stryd teen Nersa se ongeldige kragtariewe
Die Pretoriase hooggeregshof het vandag uitspraak voorbehou in AfriForum se saak teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (Salga). Die burgerregteorganisasie het verlede week die hof genader om toe te sien dat ’n uitspraak, wat in Junie vanjaar deur dieselfde hof gelewer is én waarop Nersa se appèl intussen ook van die hand gewys is, geïmplementeer word terwyl daar in opdrag van die Hoogste Hof van Appèl op die uitspraak van ’n volbank regters in die hooggeregshof gewag word. Uitspraak is tot Woensdag 4 Desember voorbehou.
Hierdie regstryd volg nadat Nersa kragtariefverhogings vir minstens 100 munisipaliteite toegestaan het, ten spyte daarvan dat dié munisipaliteite versuim het om die vereiste kostestudies as deel van hul aansoek om verhogings in te dien. Ondanks ’n uitspraak deur die hooggeregshof vroeër vanjaar, wat Nersa se goedkeuring van munisipale tariefverhogings sonder die nodige kostestudies onregmatig én ongeldig verklaar het, het munisipaliteite nogtans in Julie dié nuwe verhogings ingestel.
Nersa en Salga het in September hul tot die Hoogste Hof van Appèl gewend om die hooggeregshofbeslissing om te keer. Op 21 November het die Hoogste Hof van Appèl ’n bevel uitgereik dat die aansoek toegestaan is, maar deur ’n volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word.
Die burgerregteorganisasie het vandag tydens die verrigtinge aangevoer dat die voortgesette implementering van hierdie onwettige tariewe veroorsaak dat munisipale verbruikers erge finansiële skade ly, terwyl munisipaliteite hul sakke onregmatig vul. AfriForum het hom in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 na die hooggeregshof gewend om in die belang van kragverbruikers op te tree en toe te sien dat dieselfde hof se beslissing so gou moontlik geïmplementeer word. Aangesien die implementering van beslissings dikwels uitgestel word hangende die uitkoms van ’n appèlproses, het AfriForum spesifiek aansoek gedoen om die implementering van die uitspraak vir die tussentyd toe te staan. Artikel 18(3) maak voorsiening vir die implementering van hofbeslissings tydens die appèlproses indien bewys kan word dat die betrokkenes “onherstelbare skade sal ly” indien dit nie gedoen word nie. In hierdie geval ly miljoene kraggebruikers oor die hele land heen ongekende finansiële skade weens die voortgesette toepassing van dié onregmatige tariefverhogings.
AfriForum het die dringendheid van hierdie saak beklemtoon, aangesien dit die verbruikers is wat die finansiële skade ly terwyl daar gewag word vir die appèlproses om afgehandel te word. “Die voortgesette implementering van onwettige tariewe is nie net ’n finansiële las nie, maar ’n skending van verbruikers se regte,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum. Mostert benadruk ook dat die implementering van die hooggeregshof se besluit, voortdurende finansiële uitbuiting van miljoene verbruikers sal voorkom.
Mostert sê verbruikers wat van voorafbetaalde krag gebruik maak, is besonders kwesbaar in hierdie tyd, aangesien dit vir munisipaliteite baie moeiliker gaan wees om hierdie gebruikers te krediteer vir die oortollige bedrag wat hulle sedert Julie vanjaar gehef het. “Die regstelling van Nersa se fout moet nie vertraag word ten koste van gewone Suid-Afrikaners nie,” maan Mostert.
AfriForum bly daartoe verbind om te verseker dat die onregmatige kragtariefverhogings sonder verdere vertraging reggestel word. Die organisasie wag op die hooggeregshof se uitspraak en sal voortgaan met sy stryd om munisipale verbruikers te beskerm.