Solidariteit Beweging bereik skikking met regering by Nedlac oor Bela
Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het ’n skikking met die regering by Nedlac oor die Bela-dispuut bereik. Die partye tot die dispuut by Nedlac was Solidariteit, die Presidensie en die Minister van Basiese Onderwys. Nedlac het bevestig dat die dispuut opgelos is.
Volgens die skikking gaan die omstrede artikels in die Bela-wet nie meer op 13 Desember geïmplementeer word nie.
Norme en standaarde, nasionale beleide en regulasies, moet eers ontwikkel word wat onder meer sal bepaal dat skole wat op hul volle kapasiteit is nie instruksie mag ontvang om hul taal- en toelatingsbeleid te verander nie.
Wat taal- en toelatingsbeleid betref, moet die onmiddellike omgewing van die skool en/of sy voedingsone, en nie die groter onderwysdistrik nie, in ag geneem word.
Die uitvoering van die aanbevelings sluit nie die moontlikheid uit dat daar ’n behoefte mag wees vir toekomstige wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet nie.
Dit alles sal deel vorm van ’n proses waarin omvattende aanbevelings van die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, aan pres. Cyril Ramaphosa gemaak word vir sy behoorlike oorweging.
Hierdie skikking raak egter nie die proses van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) of enige ander prosesse rakende Bela nie. Die Solidariteit Beweging sal wel die uitkoms van die skikking aan die RNE voorhou.
Die ooreenkoms word deur die Solidariteit Beweging, AfriForum, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) ondersteun.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die ooreenkoms die uitkoms van ’n verskeidenheid van prosesse. Dit sluit in gesprekke met pres. Ramaphosa, onderhandelinge met politieke partye, insluitend die ANC, DA en VF+, die groot optog vanaf die Voortrekkermonument na Freedom Park, gesprekke met tradisionele leiers, ’n proses by PanSAT en die Nedlac-proses.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê alhoewel die skikking ’n groot deurbraak is, lê harde werk nog voor. Die belangrike deurbraak is dat ons nou weer tyd aan ons kant het dat Afrikaanse skole waarvan die kapasiteit vol is, nie ’n instruksie sal kry oor taal en toelating nie. Dit is ’n groot verligting vir Afrikaanse skole. In hierdie tyd gaan hard gepraat word oor norme en standaarde en Solidariteit gaan ook moontlike wetswysigings voorstel. Skole hoef nie toe te laat dat hulle deur amptenare geboelie word nie.
“Die Bela-stryd is die belangrikste geveg waarby AfriForum sedert sy ontstaan betrokke was. Bela se bepalings oor skole se taalbeleid, sou dit geïmplementeer word, het ’n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe ingehou. Dit is nie net Afrikaanse skole en kinders wat geteiken sal word deur die implementering daarvan nie, maar ook die strewe na moedertaalonderring vir alle kultuurgemeenskappe. Ons het reeds verskeie gesprekke met tradisionele leiers gevoer en dit is duidelik dat hulle die strewe deel dat kinders in hul onderskeie gemeenskappe onderrig in hul moedertaal ontvang. Ons kan net dankie sê aan almal wat die veldtog teen Bela ondersteun het. Die oorweldigende steun van die publiek en die feit dat duisende mense aan die optog teen Bela deelgeneem het, het die deurslag gegee,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Die skikking bevestig ook die verskillende rolle van die Minister van Basiese Onderwys en die President.
Die rol van die president met betrekking tot die Bela-wet is om die inwerkingtreding van die bepalings van die wet te bekragtig en om die aanvang van die bepalings af te kondig.
Die rol van die minister van Basiese Onderwys, as die primêre verantwoordelike persoon vir die portefeulje van Basiese Onderwys, is om die behoorlike implementering van die Bela-wet te verseker, insluitend:
- die maak van aanbevelings aan die president oor die inwerkingtreding van die wet; en
- om te verseker dat die implementering van die wet ondersteun word deur toepaslike nasionale regulasies, nasionale norme en standaarde en/of nasionale beleide.
Die skikking maak ook voorsiening vir verdere ontwikkelinge oor moedertaalonderrig wat wyer strek as net Afrikaans.
Die Solidariteit Beweging gee erkenning aan al die rolspelers vir die opbouende wyse waarop die dispuut hanteer is. Die uitkoms is ’n wen vir al die partye en die land.