| |

DWS ondersteun samewerking vir gesamentlike toetsing van Stellenbosch-rioolwater

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het AfriForum vandag versoek om ’n gesamentlike inspeksie van die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg met die Stellenbosch-munisipaliteit en DWS te koördineer waartydens monsters van behandelde rioolwater geneem moet word. AfriForum veg reeds meer as ’n jaar lank ’n verbete stryd om die gehalte van verwerkte riool by dié munisipaliteit se Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg te bepaal nadat gerugte van die storting van onverwerkte riool in die Veldwagters- en Eersterivier die ronde begin doen het.

Ten spyte daarvan dat data van DWS se geïntegreerde regulatoriese inligtingstelsel (Iris) ook toon dat die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg nie voldoen aan biologiese en mikrobiologiese standaarde nie, hou die munisipaliteit steeds voet by stuk dat die gehalte van verwerkte riool hier wel op standaard is.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het egter intussen ook vandag sy hernieude verbintenis tot deursigtigheid en beskerming van die omgewing gegee. AfriForum verwelkom dié skuif en benadruk dat samewerking tussen die burgerregteorganisasie en die munisipaliteit noodsaaklik is sodat daar in die belang van Stellenbosch se inwoners en ekonomie opgetree kan word.

’n Hand van samewerking is onlangs deur die munisipaliteit se burgermeester, Gesie van Deventer, na AfriForum uitgereik. Onder Van Deventer se leiding het die betrokke partye ooreengekom om saam ondersoek in te stel na bewerings van die storting van onvoldoende verwerkte riool. AfriForum verwelkom die burgemeester se toetrede in die belang van die Stellenbosch-gemeenskap en om samewerking te bevorder.

Dit het tydens die vergadering geblyk dat AfriForum se data en dié van die Stellenbosch-munisipaliteit verskil en dat gesamentlike watertoetsing ’n stap in die regte rigting is.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is die munisipaliteit se bereidwilligheid om nou saam te werk ’n eerste en kritieke oorwinning in belang van Stellenbosch se inwoners. “DWS se versoek dat AfriForum, DWS, die munisipaliteit sowel as ’n onafhanklike konsultant elk monsters moet neem vir toetsing by ’n geakkrediteerde laboratorium, is ’n reusesukses,” verduidelik Benade.

(Dekfoto: Stellenbosch Wastewater Treatment Works | Zutari)

Soortgelyke plasings