AfriForum en 136 vrywilligers maak saam strande in Langebaan skoon
AfriForum se Weskus-tak het onlangs saam met 136 vrywilligers die strande aan Langebaan se kus skoongemaak. Verskeie organisasies en gemeenskapslede het hand bygesit om altesaam 450 sakke rommel aan dié deel van die kus te verwyder.
Hierdie inisiatief is deur die ereveldwagters in Langebaan georganiseer – ’n groep natuurliefhebbers wat opgelei word vir geldinsameling, inligtingsessies en dienslewering om só die natuurlike erfenis van nasionale parke behoue te laat bly. Benewens AfriForum se betrokkenheid by die skoonmaakprojek, het talle gemeenskapslede ook hand opgesteek om te help, asook lede van SANParke.
Die groep het al vroegoggend bymekaargekom, toegerus met handskoene, vullissakke en ’n onwrikbare vasberadenheid om dié omgewing skoon te hou. Die honderde sakke is met allerlei soorte rommel gevul, soos stukke plastiek wat in die sand versteek is en ander rommel wat aan wal gespoel het.
Terwyl die skoonmaakaksie aan die gang was, is daar ook bewustheid geskep oor die wydverspreide besoedeling van strande en die impak wat dit op die seelewe en plaaslike ekosisteme het.
Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, sê hierdie reuseonderneming sou onmoontlik gewees het sonder die toegewyde vrywilligers en die vrygewigheid en ondersteuning van verskeie borge wat glo in die handhawing van ’n skoon omgewing. Borge soos Nautica Spar, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Vision for Change, Yzerfontein Bewarea Conservancy en AfriForum se Weskus-tak het noodsaaklike hulpbronne en verversings aan die vrywilligers verskaf.
“Wanneer mense bymekaarkom om na ’n gemeenskaplike doel te werk, genereer dit nie net goeie resultate nie, maar bevorder dit ook gemeenskapsbande en trots vir jou omgewing. Dít is alles elemente wat nodig is om ’n suksesvolle en florerende gemeenskap te bou,” sê Sidney Monk, AfriForum se voorsitter van die Weskus-tak.
Raak vandag nog betrokke by die Weskus-tak en die projekte wat hierdie AfriForum-tak aanpak om die gebied te verbeter. Kontak Monk by 079 168 8383 of voorsitter.weskus@afriforumtak.co.za vir meer inligting.