Middelburg-tak skenk water aan bejaardes wat ná 52 uur steeds daarsonder sit
AfriForum se Middelburg-tak het die afgelope naweek honderde liters water aan die Vergeet My Nie-aftreeoord geskenk nadat die bejaarde inwoners ná 52 uur steeds sonder water gesit het. Dié oord het geen lopende water gehad nie as gevolg van die herstelwerk wat die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit aan pype gedoen het.
Mark Salzwedel, voorsitter van die AfriForum-tak in Middelburg, sê die uitgerekte herstelproses het die lewe vir talle bejaardes bemoeilik, wat AfriForum genoop het om in te gryp. Die Middelburg-tak het ingespring en altesaam 650 liter water deur die loop van die naweek aangery sodat dié inwoners basiese take kan verrig.
“Water is lewe, maar deesdae word inwoners, en selfs die kwesbaarste mense in die samelewing, so maklik van hierdie basiese reg ontneem,” sê Salzwedel.
Dele van Middelburg word daagliks sonder water gelaat weens pype wat onklaar raak en bars. Die inwoners van ander dele van Mpumalanga gaan ook gebuk onder gereelde wateronderbrekings. Meer as 14 dorpe is die afgelope jaar vir meer as 48 uur sonder water gelaat weens onklaarrakings. Inwoners moes in hierdie tyd op hul eie onkostes water aanskaf, terwyl munisipaliteite net skouers optrek.
“Watertenkwaens is nie voldoende nie en kan nie dorpe volhoubaar van water voorsien nie. Baie inwoners het dikwels ook nie toegang tot alternatiewe waterbronne tydens hierdie onderbrekings nie, daarom sal AfriForum voortgaan om druk op munisipaliteite te plaas om die provinsie se waterinfrastruktuur te onderhou sodat elke dorp betroubare toegang tot water het,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Mpumalanga om by die burgerregteorganisasie betrokke te raak en saam vry, veilige en voorspoedige gemeenskappe te bou. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.