|

Owerhede moet beter doen om slagoffers te beskerm

Die regstelsel laat vroue en kinders dikwels in die steek – daarvan kan AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die slagoffers wat hulle ondersteun, getuig. Sake word dikwels uitgestel of bloot net onnodig vertraag ten koste van die slagoffer.

Vandag is die begin van die Verenigde Nasies (VN) se 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

Ons staan ook op die vooraand van die vonnisverrigtinge van die Celeste Gouws-saak.

Hierdie saak is beslis ’n voorbeeld van hoe gruwelik die owerhede ’n vroulike slagoffer in die steek gelaat het. Gouws is in 2017 in haar huis in Somerset-Oos verkrag. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter destyds besluit om nie vir Isaac Andile Memese, haar beweerde verkragter, op klagtes van verkragting en huisbraak te vervolg nie en het selfs aangevoer dat die beskuldigde ’n kans gesien en dit gevat het. Gouws het die privaatvervolgingseenheid in 2019 genader nadat sy geen antwoord op haar navrae gekry het oor waarom geen strafregtelike stappe teen die beskuldigde ingestel word nie.

Dit is sewe jaar later en Gouws veg steeds om geregtigheid. ’n Mens kan maar net hoop dat die regstelsel haar nie môre in die steek sal laat nie en dat sy ná al hierdie jare eindelik afsluiting kan kry.

In nog ’n onlangse saak waarby die eenheid betrokke geraak het, is twee veroordeelde kinderverkragters op vrye voet nadat hulle teen hul skuldigbevinding geappelleer het en op borgtog vrygelaat is. Marinus en Morné Kemp is al in 2018 skuldig bevind aan die verkragting van ’n 14-jarige meisie. Hulle is onderskeidelik tot 20 en 25 jaar tronkstraf gevonnis. Hulle appèlaansoek is egter vanjaar op 30 Oktober van die hand gewys en hulle moes by die ondersoekbeampte aanmeld. Dit het egter nie gebeur nie en hulle is ook nog nie in hegtenis geneem nie.

Die ma van die meisie het die privaatvervolgingseenheid genader nadat sy verneem het dat die Kemp-broers nog nie in hegtenis geneem is nie en omdat sy nie duidelike antwoorde van die owerhede kry nie. Sy is ook bekommerd omdat dié twee in haar en haar dogter se omgewing woon.

Daar is egter ook suksesverhale soos dié van Monique van Oosterhout wat vanjaar, jare nadat sy deur haar man, Alexi Bizos, aangerand is, uiteindelik kan sê geregtigheid het geseëvier. Sy het die privaatvervolgingseenheid in 2018 genader nadat die NVG geweier het om Bizos te vervolg. Hy is in Julie skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Volgens Van Oosterhout sou sy nooit die geleentheid gehad het om haar weergawe van die gebeure te vertel as dit nie vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid was nie. Sy het ná die uitspraak gesê sy is oortuig dat indien die eenheid nie by haar saak betrokke geraak het toe sy hulle om regsadvies genader het nie, die saak nie so sou geëindig het nie.

In ’n onlangse mediaverklaring van die VN Vroue-organisasie het Sima Bahous, die organisasie se uitvoerende direkteur, gesê: “Violence against women and girls is not inevitable – it is preventable. We need robust legislation, improved data collection, greater government accountability, a zero-tolerance culture, and increased funding for women’s rights organisations and institutional bodies.”

Indien die regstelsel in die bogenoemde gevalle in belang van die slagoffers opgetree het, sou dit in die eerste plek nie vir hulle nodig gewees het om AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp te nader of privaat te vervolg nie. Die slagoffers en hulle naasbestaandes sou ook baie vinniger geregtigheid gekry het en dalk, as ’n mens baie optimisties wil wees, sou geslagsgebaseerde geweld ook heelwat minder gewees het as die oortreders afgeskrik sou word deur ’n regstelsel waarin hofverrigtinge doeltreffend afgehandel word en swaar strawwe opgelê word.

Soortgelyke plasings