|

AfriForum-takke nou gerat vir Oos-Kaapse brandseisoen

AfriForum het die afgelope naweek veldbrandopleiding aan die burgerregteorganisasie se Broadwood-, Colchester-, Winterberg- en Mosel-buurtwagte sowel as die Seaview- en Rocklands-buurtwagte aangebied. Dié opleiding vorm deel van AfriForum se rampbestuurafdeling en het ten doel om AfriForum- en gemeenskapslede meer gereed te maak vir die komende velbrandseisoen in die Oos-Kaap. 

Die opleiding is gefokus op praktiese tegnieke en strategiese beplanning om veldbrande vinnig en doeltreffend te blus. Die AfriForum-lede is toegerus met onder meer kennis oor die nodige beskermende persoonlike klere en toerusting, brandvoorkoming, blusstrategieë, vuurgedrag, bevel en beheer, asook verskillende tipes plantegroei wat veldbrande verder kan aanvuur. Die opleiding het ook praktiese oefeninge ingesluit, waar gemeenskapslede eerstehands kon leer hoe om toerusting soos bakkiesakkies, rugsakspuite en brandplakke efffektief te gebruik. 

“Die veldbrandseisoen in hierdie streke kan uitdagend wees wat groot risiko’s vir mense, eiendom en diere kan inhou. Dit is belangrik om gemeenskappe toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om veldbrande effektief te bestuur en te blus,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum. 

Veldbrande in Suid-Afrika het vererger en hierdie jaar het so ver een van die moeilikste brandseisoene gehad. Daar word gesteun op gemeenskappe en brandbeskermingsverenigings  om brande te blus aangesien munisipaliteite nie oor die nodige hulpbronne beskik om brande te blus nie. In baie gevalle is brandweervoertuie nie beskikbaar nie of dié voertuie is sonder water of stukkend terwyl daar nie genoeg brandweer personeel is om ’n skof te beman nie.

AfriForum doen ’n beroep op alle gemeenskappe in veldbrand gevaar areas om waaksaam te wees en ag te slaan op die waarskuwings en aan te sluit by AfriForum se Port Elizabeth en Uitenhage-takke.

Soortgelyke plasings