AfriForum se Struisbaai-buurtwag ontvang opleiding en toerusting
Die AfriForum-buurtwag in Struisbaai het die afgelope naweek opleiding in verskeie aspekte van buurtwagaktiwiteite ontvang, asook toerusting om tydens hul operasies te gebruik.
Die opleiding het die buurtwaglede bemagtig om doeltreffende, doelgerigte patrollies en operasies te hou wat hul beperkte hulpbronne optimaal benut en verseker dat geen operasies sonder ’n duidelik gedefinieerde doelwit gehou word nie. Die buurtwaglede het ook opleiding in die regsaspekte van buurtwagaktiwiteite ontvang, wat krities tot hul ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is, en verseker dat hulle ten alle tye binne die raamwerk van die Grondwet optree.
Die toerusting wat die buurtwag ontvang het, sluit onder meer tweerigtingradio’s in, wat die buurtwag in staat stel om vinnig en doeltreffend met mekaar en ander rolspelers in noodgevalle te kommunikeer.
“Opleiding soos hierdie is van kardinale belang om ons lede te bemagtig sodat hulle veilig en doeltreffend kan optree,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
“Ons sal aanhou om ons gemeenskappe te beveilig en saam met ander rolspelers werk om te verseker dat misdaad nie ’n vastrapplek in ons omgewing kry nie.”
AfriForum se Struisbaai-buurtwag het reeds verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om die gemeenskap te verbeter en op te bou, insluitend die verf van straatname om te verseker dat strate makliker opgespoor kan word in noodsituasies. Al hierdie werk word deur vrywilligers gedoen, en die buurtwag kort dringend nog hande. Raak vandag nog betrokke en help dié buurtwag om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.