AfriForum waarsku teen ondeurdagte pogings om NGV te implementeer
AfriForum waarsku dat die huidige besteding wat deur die Departement van Gesondheid aangegaan word om voor te berei vir die inwerkingstelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ondeurdag is, aangesien die grondwetlikheid van NGV nog betwis word. Dit volg nadat die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, in reaksie op ’n parlementêre vraag aangedui het dat sy departement reeds teen einde November voorlopige regulasies vir die implementering van NGV wil publiseer en besig is met die vestiging van strukture wat die NGV-stelsel moet bestuur.
Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering is vanjaar op 15 Mei deur die president bekragtig en het verskeie hofaansoeke teen die grondwetlikheid daarvan ontlok. AfriForum staan ook gereed om ’n aksieproses teen NGV van stapel te stuur en ander geteikende regsaksie waar nodig. Die burgerregteorganisasie maan dat dit meer gepas is vir amptenare om te wag op uitspraak in die relevante hofsake, voordat daar sprake van implementering is.
Volgens Louis Boshoff, gesondheidsbeampte van AfriForum, is daar ’n groot moontlikheid dat NGV – of groot dele daarvan – ongrondwetlik verklaar sal word. Dan sal alle voorbereiding daarvoor tot stilstand kom. “As hierdie ’n markgedrewe proses was, sou geen belegger bereid wees om geld te belê in ’n stelsel waarvan die grondwetlikheid onseker is nie, maar nou moet die belastingbetaler toekyk hoe sy geld bestee word aan die oprigting van ’n stelsel wat heel moontlik tot niet gemaak sal word,” verduidelik Boshoff.
Uit die minister se parlementêre antwoord blyk dit dat talle aksies onderneem word, wat eerder tans op ys moet wees. Dit sluit onder meer in die skryf van regulasies, die selektering van artikels vir promulgering, die aanstelling van ’n raad vir die bestuur van NGV en die aanwys van ’n Ministeriële Adviesraad op Gesondheidsorgvoordele. Volgens AfriForum is die kanse groot dat al hierdie prosesse, wat die belastingbetaler duur te staan gaan kom, op niks sal uitloop nie.
“Afgesien van die onnodige uitgawes wat aangegaan word, bestaan die risiko ook dat die voortydige implementering van NGV billike regspraak oor die grondwetlikheid daarvan kan hinder,” voeg Boshoff by.
Ondersteun AfriForum se teenkanting van NGV deur www.jougesondheid.co.za te besoek en jou stem te laat hoor.