Persombudsman beslis in AfriForum se guns en beveel Sunday World om verskoning vir vals beriggewing te publiseer
Die persombudsman het vandag beslis dat Sunday World in Augustus 2024 valse bewerings oor AfriForum gepubliseer het en die publikasie beveel om die bewerings terug te trek en om verskoning te vra.
In die artikel van 26 Augustus het Sunday World valslik aangevoer dat AfriForum beweer dat ’n wit volksmoord in Suid-Afrika aan die gang is, asook dat dié organisasie weier om homself teen moorde op swart mense uit te spreek.
Volgens die persomdbud se bevindinge het Sunday World aanvaar dat dit verkeerd is om te sê dat AfriForum beweer daar is ’n wit volksmoord in Suid-Afrika en het aangebied om hierdie bewering terug te trek en om verskoning te vra. Die uitspraak bepaal verder dat Sunday World aanvaar dat vorige beslissings deur die Persraad, klagte 4366 teen Mail & Guardian (2018) en klagte 8395 teen TimesLive (2021), bevind het dat hierdie eis ongegrond is. Boonop het die persombud die klag gehandhaaf dat Sunday World se artikel klousule 1.1 van die perskode oortree het – om seker te maak dat nuus eerlik, akkuraat en regverdig berig word – deur te berig dat AfriForum geweier het om die moord op swart mense te veroordeel.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, verwelkom die organisasie hierdie regverdigende uitspraak van die persombud. “Dit is egter nie die einde nie, aangesien AfriForum onlangs twee bykomende klagtes ingedien het oor verdere valse bewerings wat onlangs deur Sunday World teen die organisasie gepubliseer is. Die eerste het betrekking op die absurde valse bewering op 10 November dat die Apartheidsvlag by ons protes teen die Bela-wet vertoon is. Die tweede klagte is ingedien oor gefabriseerde aanhalings oor die ANC wat aan Kallie Kriel toegeskryf word wat op 17 November gepubliseer is,” sê Van Zyl voorts.
“Dit is moeilik om nie ’n duidelike vooroordeel en selfs agenda teen AfriForum in Sunday World se beriggewing die afgelope paar maande te sien nie. Een valse bewering kan moontlik as ’n fout afgeskryf word, maar nie minstens drie nie, veral nie van hierdie ernstige en blatante aard nie. Die media se taak is om die waarheid te rapporteer, nie om politiek en voortdurende beleidsonderhandelinge misleidend te probeer beïnvloed nie,” sluit Van Zyl af.