|

Vermeende diewe aangekeer vir diefstal van treinspoor-dwarslêers

Die AfriForum911-reaksie-eenheid in Bloemfontein het in samewerking met Bloemsec-sekuriteit twee verdagtes in hegtenis geneem vir die diefstal van treinspoor-dwarslêers. Die voorval het op 13 November omstreeks 16:18 plaasgevind. Bloemsec se Rapid Response-span het AfriForum911 se reaksieoffisier ontbied nadat verdagte aktiwiteit naby die treinspore in Bloemfontein-Noord opgemerk is.

Die span van Bloemsec en die AfriForum911-reaksieoffisier het ’n blou bakkie geïdentifiseer wat met die voorval verbind word. By verdere ondersoek is die verdagtes opgespoor waar hulle onder ’n bos geskuil het. Hulle is onmiddellik in hegtenis geneem en na die toneel vergesel, waar die reaksieoffisiere die gesteelde dwarslêers in beslag geneem het.

’n Verteenwoordiger van Transnet het ook die toneel besoek om die gesteelde eiendom te verifieer.

Verdere onderhoude met die verdagtes het daartoe gelei dat die span ’n kleinhoewe in die omgewing besoek waar 12 gesteelde dwarslêers, steeds toegerus met Transnet se basisplate, gevind is. Die eienaar van die kleinhoewe het bevestig dat die dwarslêers aan hom verkoop is en dat die blou bakkie gebruik is om dit daar af te lewer. Hy het ’n verklaring aan die ondersoekbeamptes verskaf, maar is nie in hegtenis geneem nie.

“Danksy die waaksaamheid van die reaksieoffisiere is ’n suksesvolle arrestasie uitgevoer. Bloemfontein het geen plek vir misdadigers nie en ons ondersteun ten volle die missie om te verseker dat misdadigers suksesvol vervolg word,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Die verdagtes is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se blitspatrollie-eenheid oorhandig en na die Bainsvlei-polisiekantoor geneem vir verdere ondersoek.

Bloemsec-Sekuriteit en die AfriForum911-reaksie-eenheid herbevestig hul verbintenis tot gemeenskapsveiligheid en versoek dat die publiek waaksaam bly en enige verdagte aktiwiteite onmiddellik aanmeld.

Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan en veg saam teen misdaad: Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings