AfriForum nader hof om onwettige ontwikkeling in Sasolburg te stuit
AfriForum het vandag hofstukke op die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Menslike Nedersettings beteken om die onwettige ontwikkeling wat op Wonderfontein naby Sasolburg gedoen word, in sy spore te stuit.
AfriForum is reeds sedert Augustus vanjaar, in samewerking met die gemeenskap en ander plaaslike rolspelers, in ’n stryd gewikkel met die munisipaliteit om antwoorde oor die ontwikkeling te bekom. Die burgerregteorganisasie eis onder meer antwoorde oor die beoogde rioleringstelsel, voorgestelde vullisverwyderingsplan en die omgewingsimpak wat die ontwikkeling kan inhou. AfriForum dring voorts aan op inligting oor die finansiering van die betrokke infrastruktuurontwikkeling. Die munisipaliteit het tot dusver geen terugvoer op AfriForum se versoeke om inligting gegee nie.
“AfriForum is nou genoodsaak om die hof te nader om toe te sien dat hierdie ontwikkeling gestop word,” benadruk Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek. “Die munisipaliteit het nie die nodige planne gereed om dié ontwikkeling volhoubaar te doen nie. Dit voldoen ook nie aan die kritieke vereistes vir ontwikkeling soos deur die munisipaliteit se eie tribunaal voorgeskryf is nie. Hulle geïgnoreer bloot die tribunaal en gaan voort met die ontwikkeling wetende dat dit onwettig is,” verduidelik hy.
Dié ontwikkeling wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal goedgekeur is.
“Ontwikkeling wat op hierdie onwettige wyse geskied, gaan net skadelik vir inwoners en die omgewing wees. Daar kan nie net blindelings ontwikkel word sonder die nodige planne nie. AfriForum sal toesien dat, indien die ontwikkeling voortgaan, dit op ’n verantwoordelike en volhoubare wyse gedoen word in die belang van die omgewing en gemeenskap, en nie vir politieke gewin soos dit blyk om tans die geval te wees nie,” sluit Grobbelaar af.
Vereistes waaraan voldoen moet word sluit onder meer in die:
- konsolidasie van erwe soos uiteengesit deur die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur 16 van 2013;
- opknapping van die padnetwerk en infrastruktuur soos uiteengesit in die verkeersimpakstudie;
- aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur om ’n volledige infrastruktuurassessering te doen;
- ontwerp en bou van ’n nuwe rioolaanleg om genoegsame riolering vir die ontwikkeling te bied;
- bou en ontwerp van voldoende stormwaterstelsels; en
- voorlegging van voorlopige ontwerpplanne van die huise wat gebou gaan word in die dorpontwikkelingsgebied (dié planne moet binne ses maande vanaf die goedkeuring van die ontwikkeling ingedien word).
Jy kan ook ’n verskil maak!
Jy kan ook jou stem dik maak teen dié onwettige ontwikkeling. Besoek https://artikels.afriforum.co.za/sasolburg-ontwikkeling/ vir meer inligting.