|

AfriForum-tak knap dié erfenisterreine in Heilbron op

AfriForum se Heilbron-tak het die afgelope maand hand aan die ploeg geslaan en twee belangrike erfenisterreine in dié Vrystaatse dorp skoongemaak. Die Riemland-museum, in die hartjie van Heilbron wat die storie van hierdie dorp en sy mense vertel, sowel as die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas waar meer as 1 120 bejaardes, vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gesterf het, is opgeknap.

Die museum se gras is gesny, vullis is opgetel en die plaveisel en paadjie om en voor die museum is skoongemaak. ’n Totaal van 22 halfton-sakke vullis en gesnyde gras is verwyder.

By die konsentrasiekampbegraafplaas is die grafte skoongemaak, gras is netjies gesny en dooie blare is verwyder. Hier is 18 halfton-sakke gras, blare en vullis verwyder. Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek, is begraafplase ’n skakel met die verlede. “Ons is dit aan die mense wat hier ter ruste gelê is, verskuldig om die terrein met waardigheid te behandel en dit in stand te hou,” verduidelik sy.

“Dit is wonderlik dat die tak moeite doen om ons erfenis te help bewaar. As ons dit nie self doen nie, sal ons erfenis nie vir die nageslag behoue bly nie. Lede van die gemeenskap wat ’n helpende hand wil bied, is baie welkom,” sê sluit Pretorius af. Raak vandag nog by Heilbron se AfriForum-tak betrokke en help om jou gemeenskap te verbeter.

Soortgelyke plasings