AfriForum pak boewe, blus brande en beveilig buurte in Bloemfontein
AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein het die afgelope maand verskeie veiligheidskwessies hanteer en belangrike ondersteuning aan inwoners gebied. AfriForum-buurtwagte en die AfriForum 911-reaksie-eenheid het gehelp om bykans 60 inhegtenisnemings te maak en broodnodige hulp by 30 motorongelukke en ander mediese noodgevalle verleen.
Afdelings van die GVS het ook in Oktober:
- 45 telefoniese klagtes met betrekking tot onder meer diefstal, kapings, brande en motorongelukke hanteer. 13 van die klagtes is deur die sektor-radionetwerk hanteer en 41 deur die nasionale radionetwerk;
- AfriForum Brandweer het in vennootskap met Fire Ops en die ondersteuning van die Mangaung-metro se brandweer, ander AfriForum-brandspanne, buurtwagte en brandbeskermingsverenigings altesaam 16 veldbrande, twee struktuurbrande en twee voertuigbrande suksesvol geblus;
- ondersteuning gebied aan sewe gevalle van diefstal en ses inbrake;
- 16 operasies uitgevoer in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsrolspelers in Bloemfontein;
- AfriForum-buurtwagte het self 42 patrollies suksesvol uitgevoer;
- die AfriForum 911-reaksie-eenheid is 41 keer geaktiveer om die publiek, buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en die SAPD by te staan;
- 71 verdagte persone en voertuie saam met die SAPD en ander veiligheidsrolspelers deursoek;
- 171 skriftelike klagtes met betrekking tot misdaad van die publiek hanteer en ondersteuning aan dié lede gebied; en
- ’n kapingsvoorval suksesvol hanteer.
Hierdie aksies, wat deur AfriForum se omvangryke kommunikasienetwerk moontlik gemaak is, asook die samewerking van ander veiligheidsrolspelers waarmee AfriForum hegte bande gesmee het, het ’n betekenisvolle verskil in die gemeenskap gemaak. Die AfriForum-beheerkamer in Bloemfontein, tesame met AfriForum-buurtwagte, die AfriForum 911-reaksie-eenheid, AfriForum Brandweer in vennootskap met Fire Ops en die SAPD, het verseker dat inwoners vinnige en betroubare hulp ontvang het.
“Hierdie pogings is ’n bewys van die verskil wat doelgerigte samewerking tussen gemotiveerde gemeenskapslede, buurtwagte en veiligheidsdienste kan maak,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.
AfriForum streef daarna om Bloemfontein ’n vry, veilige en voorspoedige stad te maak vir inwoners. Word dus vandag deel van hierdie belangrike veiligheidsinisiatief deur by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan te sluit. Saam kan ons ’n beter toekoms vir Bloemfontein verseker. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.