|

Rioolbesoedeling in Vaalrivier-opvangsgebied bedreig Gauteng se watersekerheid

Dringende en daadwerklike optrede is nodig om rioolbesoedeling in die Vaalrivier se opvangsgebied stop te sit. Hierdie rioolbesoedeling hou ’n ernstige bedreiging vir Gauteng se watersekerheid en die gesondheid van mense en die omgewing in. Dít is AfriForum se pleidooi na aanleiding van David Mahlobo, die adjunkminister van Water en Sanitasie (DWS), se onlangse uitspraak dat munisipaliteite met ’n “wortel-en-stok” benadering vir rioolbesoedeling aanspreeklik gehou sal word.  

Gauteng se waterstelsels verkeer reeds onder geweldige druk weens kroniese munisipale wanbestuur, verwaarlosing van infrastruktuur en die wye voorkoms van lekkasies. Dít lei daartoe dat Suid-Afrika se beperkte waterbronne nie optimaal benut word nie. Wanneer natuurlike waterbronne soos die Vaalrivier boonop met riool besoedel word verswak die kwaliteit van natuurlike waterbronne tot so mate dat dit nie met konvensionele metodes behandel kan word om drinkwatergehalte te bereik nie. Dit beteken nie dat dit onmoontlik is om besoedelde water tot drinkwatergehalte te behandel nie. Die implikasie is egter dat waterdienste-instellings soos Rand Water, wat rou water behandel om skoon drinkwater aan Gauteng se munisipaliteite te voorsien, addisionele onkostes moet aangaan om te verseker dat drinkwater steeds voldoende behandel word. Voorts word die koste om veilige drinkwater te voorsien aansienlik duurder.

Daarom verwelkom AfriForum enige optrede om munisipaliteite wat hulle aan rioolbesoedeling skuldig maak aanspreeklik te hou, maar waarsku dat daar nie alleenlik op kriminele vervolging staat gemaak moet word nie. Die redes hiervoor is eerstens, omdat ondersoeke lank vat en dat amptenare wat nie hul verpligtinge behoorlik uitgevoer het nie, dikwels teen die tyd dat vervolging ingestel word lankal nie meer hul poste beklee nie. Tweedens, as ’n skuldigbevinding gemaak word en boetes as straf opgelê word is dit gewoonlik nie die amptenare wat persoonlik daarvoor moet opdok nie, maar die munisipaliteit. Só word inwoners van die munisipaliteit eintlik dubbel gestraf – eers vir die negatiewe impak van rioolbesoedeling waarmee hulle moet saamleef en dan vir die boete wat effektief uit die belastingbetaler se sak betaal word.

Volgens AfriForum moet deursigtigheid ’n kernkomponent van die adjunkminister se “wortel-en-stok” benadering wees. Dit sal bydra tot ’n ingeligte en aktiewe burgery, wat op sy beurt positiewe verandering in die bestuur van waterinfrastruktuur en -hulpbronne teweeg kan bring, asook om die betrokke amptenare verantwoordbaar te hou. Die DWS se geïntegreerde regulatoriese inligtingstelsel (Iris) is ’n goeie voorbeeld van ’n meganisme om deursigtige waterbestuur te bevorder. Dié stelsel gee vir die publiek onder meer toegang tot rekords van rioolsuiweringsaanlegte se wetlike nakomingsmoniteringsresultate. 

Volgens die Iris-rekords oor verwerkte rioolwater wat deur 21 rioolsuiweringsaanlegte stroomop van die Vaal Barrage in die opvangsgebied van die Vaalrivier gestort is gedurende die tydperk 2024-07-13 tot 2024-11-13, voldoen net die Sasolburg Operations-rioolsuiweringsaanleg se uitvloei aan meer as 90% van die betrokke wetlike standaarde en word as “uitstekend” geklassifiseer. Elkeen van die oorblywende 20 rioolsuiweringsaanlegte se uitvloei het aan minder as 50% van die betrokke wetlike standaarde voldoen en word as “sleg” geklassifiseer. Verwerkte rioolwater wat in riviere gestort word, moet ’n voldoeningspunt van 90% ten opsigte van die vereiste mikrobiologiese, chemiese, fisiese en operasionele standaarde behaal.

’n Verdere voorbeeld van deursigtige waterbestuur is beskikbaar op die webtuiste https://reservoir.org.za/, waar Rand Water die moniteringsuitslae van die kwaliteit van rou water wat vir behandeling uit die Vaalrivier onttrek word aan die publiek beskikbaar stel. Die mees onlangse monsters wat op 6 November 2024 by 10 moniteringspunte stroomaf van die Vaaldam en stroomop van die Vaal Barrage geneem is, se resultate toon dat die toelaatbare perke vir die teenwoordigheid van E. Coli (Escherichia coli)  die hoërisikoperk van 400 dele per 100 ml ver oorskry by die volgende moniteringspunte: Punt #3 (41 060 dele/100 ml); Punt #4 (5 040 dele/100 ml); Punt #5 (579 dele/100 ml); en Punt #9 (34 480 dele/100 ml). Dit dui daarop dat onverwerkte riool in die omgewing vrygestel was wat stroomaf ernstige gesondheidsrisiko’s kan inhou.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, kan die rioolbesoedelingskrisis in die Vaalrivier se opvangsgebied toegeskryf word aan munisipaliteite se gebrek aan die nodige kapasiteit, kundigheid en vermoë om die verwaarlosing van infrastruktuur te voorkom. “Die omvang van die rioolbesoedoelingskrisis en gevolge wat dit vir Gauteng inhou, is enorm. Oplossings moet dringend in werking gestel word, maar dit is ’n taak waarvoor munisipaliteite allermins alleen opgewasse is. AfriForum doen daarom ’n beroep op munisipaliteite om nou saam te werk met gemeenskapsorganisasies en die privaatsektor wat gereed staan om positiewe bydraes tot die instandhouding en bestuur van water- en rioolinfrastruktuur te lewer. Daardeur kan die onmiddellike druk waaronder munisipaliteite verkeer verlig word, sodat beperkte hulpbronne so doeltreffend moontlik aangewend sal word,” sluit De Vaal af. 

Soortgelyke plasings