Dranklisensie-aansoek sloer byna twee jaar lank; AfriForum eis antwoorde van Gautengse Drankraad
Byna twee jaar. Dít is hoe lank een Gautengse kleinsake-eienaar reeds wag om die aansoekproses vir ’n dranklisensie, wat veronderstel is om hoogstens 90 dae te neem, by die Gautengse Drankraad (GLB) af te handel. AfriForum dring in die lig van dié gesloer sowel as kommerwekkende bewerings van omkopery by dié raad aan op antwoorde van die GLB. Die burgerregteorganisasie het daarom vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die raad ingedien.
Die betrokke kleinsake-eienaar, wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, voer aan dat die GLB se gebrek van kommunikasie en ondersoekvermoë om lisensies goed te keur sowel as bewerings van korrupsie by die raad veral kommer wek. Hy het sy aansoek in Januarie 2023 ingedien en sukkel steeds om duidelike kommunikasie by die drankraad te kry oor sy aansoek.
In sy PAIA-aansoek versoek AfriForum die GLB om volledige inligting te voorsien oor die agterstand van dranklisensie-aansoeke en om aan te dui hoeveel aansoeke die afgelope twee jaar ontvang en goedgekeur is. Beleide oor die voorkoming van korrupsie en vooroordeel in die aansoekproses, sowel as riglyne vir die hantering van klagtes van aansoekers, is ook in die aansoek aangevra.
Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte oor Korrupsie by AfriForum, buit die GLB eerlike ondernemings wat aansoek om dranklisensies doen, uit. “Wetgehoorsame individue se dranklisensie-aansoeke word afgekeur of sloer voort, terwyl amptenare van die drankraad na bewering omkoopgeld van aansoekers eis om aansoeke goed te keur. Dít terwyl onwettige alkoholverkopers telkens onverpoos voortgaan met hul onwettige aktiwiteite,” verduidelik Mostert.
Sanderien van der Walt, bestuurder by AfriForum Sakenetwerk, ’n netwerk wat hom beywer vir ondernemings se vooruitgang in Suid-Afrika, sê: “Wanneer goedkeuring vir ’n dranklisensie vertraag word, kan dit ondernemings ernstig benadeel. Vertraagde lisensiegoedkeuring beïnvloed die kontantvloei van ’n onderneming omdat die onderneming nie alkohol, wat dikwels ’n groot deel van die inkomste uitmaak, kan verkoop nie. Dit kan ook die reputasie van die onderneming skade doen, veral as daar ’n verwagting is van kliënte. Benewens hierdie redes kan lang aansoekprosedures ongerief en onduidelikheid veroorsaak wat potensiële beleggers kan afskrik en die groei van ’n onderneming kan belemmer. Dit het dus ’n direkte impak op die onderneming se volhoubaarheid.”
Benewens AfriForum se versoek vir inligting oor die goedkeuring van dranklisensies, het die organisasies ook dokumentasie en verslae oor ondersoeke en sanksies vir nienakoming van die maatreëls teen onwettige drankverkope, veral in verband met die verkope aan minderjariges, aangevra.
Dié komponent van AfriForum se PAIA-aansoek is, volgens Mostert, noodsaaklik om te bepaal of die GLB onwettige verkope van drank én drankverkope aan minderjariges met die nodige erns hanteer en om te bepaal of die raad moeite doen om tragedies, soos dié waarin 21 mense in 2022 in ’n taverne Oos-Londen gesterf het, te voorkom.
AfriForum sal sy ondersoek na ander provinsiale drankrade uitbrei indien klagtes ten opsigte van korrupsie of ’n gesloer in die goedkeuringsproses by die organisasie aangemeld word.