Nuuskommentaar: Opvallende skuiwe van ’n kwynende EFF
’n Groep rykes wat in die naam van die armes die middelklas wil vernietig.
Dis die definisie van ’n sosialistiese party – en tot ’n groot mate ook van die EFF.
So is die EFF nog altyd goed daarmee om hul opponente te laat glo dat daar ’n massa armes bankvas agter hulle staan, terwyl hul werklike steunbasis eintlik in ryk buurte rondom prestige universiteite en privaat skole geleë is. Die politieke kommentator Richard Wilkinson het byvoorbeeld uitgewys hoe die EFF se steun in buurte soos Rondebosch en Observatory, rondom die Universiteit van Kaapstad, tot so hoog as 48% in die afgelope verkiesing was. Terwyl die party in informele nedersettings gelukkig was as hulle 10% gekry het. Die term “sjampanje-sosialiste” geld eintlik vir die meeste sosialiste.
Tog bly die EFF goed daarmee om die persepsie te skep dat hulle die party van die armes is en om dan op daardie persepsie te kapitaliseer.
In die afgelope paar maande was daar ’n uitvlug van prominente figure uit die EFF, meestal onderweg na die MK-party. Floyd Shivambu, Mzwanele Manyi, Busisiwe Mkhwebane en Dali Mpofu se EFF-koebaai is almal sterk aanduiders dat die party heeltemal kan verbrokkel. Dit is fassinerend om te let op hoe die EFF op hierdie bedreiging gereageer het.
Op 11 Oktober word daar ’n “openbare lesing” deur Julius Malema, leier van die EFF, in een van die grootste lokale op Tuks se hoofkampus aangebied. Tot niemand se verbasing nie, was daar slagspreuke soos “down with capitalism” (wat hy aflees van die teks op sy kapitalisties-gebore Ipad Pro) en “down with Afrikaans” (wat hy natuurlik in die koloniale taal, Engels, lewer). Tot niemand se verbasing nie, is die dreunsang “Kill the Boer” gesing en verskeie oproepe tot rewolusie gemaak.
Die feit dat die Universiteit van Pretoria so ’n “politieke lesing” (wat niks anders as ’n EFF-partysaamtrek was nie) in hul akademiese fasiliteite toegelaat het en hul boonop nie eens van die inhoud gedistansieer het nie, skreeu ten hemele. Om die hele geleentheid reg te verstaan moet ons egter verby die ontstellende, en tegelyk lagwekkende, retoriek kyk. Die subtiele boodskap is duidelik die volgende: “As ons – die party van die armes – dit kon regkry om selfs hier tussen die geleerdes en welgesteldes ’n stampvol geleentheid te organiseer, hoeveel meer steun het ons dan nie in die townships en onder die werkloses nie?”
Maar Juju se werklike beredenering was waarskynlik eerder soos volg: “Ons steun kwyn onder die armes. Laat ons terugtrek na die universiteit, waar jongmense welaf genoeg is dat hulle dit kan bekostig om radikaal te wees. Daar sal ons dit laat lyk asof alles wel is met die party van die armes.”
Tog het die armes nie eintlik ’n party in Suid-Afrika nie. Die meeste het bloot glad nie gaan stem in die afgelope verkiesing nie, terwyl ’n groot aantal eerder hul party op grond van kulturele identiteit as klas-identiteit gekies het. Dink maar aan die groot hoeveelheid Zoeloe-kiesers wat vir die MK-party gestem het en die groot hoeveelheid bruin kiesers wat vir die PA gestem het.
Vir die res van ons is die les eenvoudig: moet jou nie laat flous deur ’n lesingsaal vol radikale studente nie – die rewolusie is dood.
* Boshoff is die woordvoerder vir AfriForum Jeug