AfriForum 911-reaksie-eenheid trek drie vermeende veediewe vas
Die AfriForum 911-reaksie-eenheid in Bloemfontein het gister (12 November) om 10:40 gehelp om drie verdagtes vas te trek wat na bewering by ’n veediefstalvoorval in die Jagersfontein-distrik betrokke was. Die reaksie-eenheid het tot aksie gespring nadat inligting ontvang is dat vyf Brangus-beeste in dié gebied gesteel is en dat die voertuig wat vermoedelik gebruik is om die beeste te buit, in Bloemfontein rondbeweeg.
Die eenheid het vinnig werk daarvan gemaak om die verdagte voertuig in Hilton op te spoor en op bystand gewag voordat hulle toegeslaan het. Die veiligheidsmaatskappy Bloemsec het kort daarna op die toneel gestop en met behulp van die AfriForum-eenheid die verdagtes sonder voorval in hegtenis geneem. Die verdagtes is op die toneel aan die Bloemspruit-polisie oorhandig en ’n saak van veediefstal is by die Tierpoort-polisiestasie aanhangig gemaak vir verdere ondersoek. Die Bloemfonteinse polisie se veediefstaleenheid het ook die vyf gesteelde beeste teruggevind. Dié beeste het ’n gesamentlike waarde van ongeveer R300 000.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad, sê die inhegtenisnemings sou nie moontlik gewees het sonder die betrokkenheid van verskeie veiligheidsrolspelers nie. “Danksy die samewerking tussen AfriForum, Bloemsec, ITR Security, Tracker, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en sy veediefstaleenheid is die landbougemeenskap nou nóg veiliger teen veediewe. Hierdie sukses is die resultaat van uitstekende kommunikasie en samewerking tussen veiligheidsrolspelers in Bloemfontein.”
AfriForum moedig lede van die gemeenskap aan om by die Bloemfontein-tak betrokke te raak om só die stryd teen misdaad voort te sit. Sluit vandag by www.wordlid.co.za aan.