|

Koster-tak eis optrede ná vertragings in padprojek inwoners duur te staan kom

AfriForum het gister ’n dringende skrywe aan die Departement van Openbare Werke en Paaie in Noordwes gerig oor die haglike toestand van Koster se paaie, wat by die dag vererger weens opgraderings wat skynbaar stilstaan. Die R52, R509 en Brookstraat is in grondpaaie omskep nadat herstelwerk aan die paaie begin het en skielik sonder rym of rede opgeskort is. Die onvoltooide paaie hinder inwoners al vir maande lank en ondernemings voer aan dat hulle selfs kliënte kwyt is weens die haglike toestand van die paaie.

“Die omstandighede op die paaie in Koster is onaanvaarbaar. Die huidige toestand het nie net ’n impak op motoriste se veiligheid nie, maar benadeel nou ook plaaslike ondernemings omdat dit ’n stryd is vir kliënte om die ondernemings te bereik. Die enigste sigbare vordering wat tot dusvêr gemaak is, is die aanwending van gruis op een straat, wat onvoldoende is gegewe die omvang van die probleem,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Ten spyte daarvan dat AfriForum die toesighouer van die projek al by verskeie geleenthede probeer kontak het oor die situasie, het die burgerregteorganisasie steeds geen antwoord ontvang oor die vertragings in die projek nie. Die masjinerie wat gebruik moet word om die projek te voltooi, staan glo ook al lank stil. Dit verhoog die koste van die projek net nog verder en vertraag die broodnodig opgraderings aan die paaie.

AfriForum het in sy skrywe die provinsiale departement versoek om redes te gee vir die voortdurende vertraging en ’n konkrete tydlyn te verskaf vir die voltooiing van die opgraderings. Die departement het tot Vrydag (15 November)om op die skrywe te reageer. Indien die departement swyg, sal AfriForum genoodsaak word om die saak verder te vat en die nasionale departement te nader.

“Die burgerregteorganisasie hoop van harte dat die departement die saak vinnig sal hanteer en sy toewyding aan die welstand en veiligheid van Koster se inwoners, sal bewys,” sê Rika van Staden, voorsitter van AfriForum se Koster-tak.

AfriForum is vasbeslote om die regte van die inwoners van Koster te beskerm en dié probleem vinnig die hoof te bied. Raak betrokke by AfriForum se Koster-tak om deel te word van die oplossing. Skakel Rika van Staden by 060 369 3215 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings